Skrywers skerp vaardighede op by slypskool
As taalkundiges, ’n ervare joernalis en ’n gepubliseerde skrywer en bekende afgetrede politikus soos dr. Pieter Mulder jou slypskool vir skrywers bywoon, moet jy jou woorde tel. Dit kan aanvanklik nogal intimiderend wees. Wat kan hulle nou eintlik by jou wys word, wonder jy kliphard. Dr. Mulder het immers 15 jaar lank Kommunikasiekunde aan die Puk gedoseer en is die skrywer van die boek, Kan Afrikaners toyi-toyi? Op die ou einde was dit ’n geesdriftige uitruil van skeppende gedagtes. Ons kan almal by mekaar leer.
Ek het al opgemerk dat as iets op die platteland aangebied word, is almal daar – anders as wat die geval dikwels in die stad is. Onder die 18 deelnemers by die slypskool wat op Saterdag, 22 April by die Gentle Breeze Retreat in Parys aangebied is, was ’n afgetrede predikant, Hannes Steyn (82). Hy was nogal heel geamuseerd oor my ervarings as misdaadskrywer en oor gewese bendelede wat ewe vroom pastore geword het – Pastoor Gangsta, het Netwerk24 hulle destyds genoem. Menige predikant beskik oor skryftalent, het ek al agtergekom. Hulle moet immers hul preke skryf. Hannes wil nou sy ervarings ná sy jare as leraar neerpen. Die deelnemers het ook ingenieurs, ’n prokureur, oud-onderwyseresse en ’n afgetrede dosent in Duits, Elizabeth Hentschel, ingesluit, tesame met ander wat reeds kortverhale gepubliseer het. Onderwyseresse, het ek al by talle boekefeeste en boekbesprekings gevind, is van die mees belese mense – slimkoppe met ’n liefde vir ons taal. Elizabeth het die slypskool as ’n “werkswinkel met woema” beskryf.
Een van die praktiese opdragte was dat die deelnemers iemand in die groep moet beskryf en dan moet die res raai wie dit is. Hiervoor moes jy fyn waarneem – the devil is in detail, lui die gesegde. Einste Hannes was toe die groot gunsteling. Hy moes ’n indruk op die ander gemaak het. Dr. Mulder en nog ’n bekende voormalige politikus, Koos Botha, het hul jare lange ervarings met die media gedeel. Nie almal beoefen mos sonskynjoernalistiek nie!
Ons het gesamentlik stories geskryf waar elkeen ’n beurt gekry het om ’n verhaal ná die inleidende sin voort te sit, byvoorbeeld: “Hier sit ek nou in ’n sel vir ’n moord wat ek nooit gepleeg het nie. Of het ek?” Die deelnemers se verbeelding het oortyd gewerk met dié groeppoging. Selfs die berugte Thabo Bester was ’n denkbeeldige karakter in een van die fiksieverhale.
Die ATKV-tak Vredefort Koepel het dalk net ’n handjievol lede, maar hul bydrae tot die kreatiewe beroepe, asook liefdadigheid, strek wyd. “As ons iets aangebied het, het ons altyd die hele gemeenskap genooi. Vredefort en Parys is saamgetrek en later het Viljoenskroon ook bygekom,” sê Corlia Kruger, voorsitter van die tak. Enigeen – nie net lede van die ATKV nie – was welkom om die slypskool vir skrywers by te woon. Een deelnemer het al die pad van Kroonstad af gery om daar te wees nadat sy ’n berig oor die slypskool in Beeld raakgelees het. Daar was ook deelnemers van Johannesburg, Alberton en Vanderbijlpark. Corlia vertel dat hulle tak maar vyf ingeskrewe lede het. Erna Rademan, wat vir die musiekuitvoerings verantwoordelik was, is ook die penningmeester. Sy vertel: “Hoewel ons min ingeskrewe lede het, betrek ons talle ander. Ons het aanvanklik ’n jeugtak in 2016 by die Hoërskool Chris van Niekerk in Vredefort gestig, waar die leerders oorwegend swart is, hulle net tot graad 9 kan skoolgaan en Afrikaans as skoolvak het. Só het ons al tot groot vermaak van die kinders idiomekompetisies, speletjiesaande en selfs volksdanse gedoen.”
Die talentvolle Hloni Mokoena (20) was destyds die voorsitter van dié jeugtak. Hy was in graad 9 toe hy as afgevaardigde na die ATKV-kongres in Stellenbosch gestuur is. By die boekbekendstelling en onthaal wat Saterdagmiddag na afloop van die slypskool plaasgevind het, het Hloni as violis opgetree, terwyl Erna hom op die klavier begelei het. Erna het ná haar aftrede besluit om die jeugtak in ’n tak vir volwassenes te omskep. “Ons fokus hoofsaaklik op musiek en hou musiekoggende in ’n restaurant met ’n groot tuin by die rivier. Ons hou ook Noot vir Noot-kompetisies waar almal saam sing.” Hulle reik ook ’n helpende hand na die gemeenskap uit deur drie sopkombuise te ondersteun. Baie van die boere in die omgewing is ruimhartige skenkers. Voorts ondersteun hulle musiekstudente, waarvan Hloni een is, finansieel. Erna was aanvanklik skoolinspekteur en toe skoolhoof by Vredefort. Dit was haar wens dat Peter Guy die Mangaung String Programme in Bloemfontein na hul tak uitbrei. Nagenoeg 70 kinders het by die program in Vredefort aangesluit. Erna, ’n pianis wat op universiteit ook die tjello gespeel het, het baie nou betrokke geraak by die kinders. “Hulle het elke dag saam met my geoefen en so uitgeblink dat 12 van die 20 kinders van die Hoërskool Chris van Niekerk aan die elite All Stars-groepie behoort het.”
Sy het die kinders gereeld vertel dat musiek hulle kan help om uit hul omstandighede te kom en hulle op hul beurt weer die bemagtigers kan laat word. “Hier het die ATKV met skootrekenaars, beddegoed en selfs ’n naskoolse koshuisbeurs gehelp.” Sy vertel trots dat sy vir agt jaar lank ’n mentor vir Hloni was en dat hy toe by die “mees Afrikaanse” universiteitskoshuis, naamlik Patria-manskoshuis by die NWU, ingeskryf het – en as eerstejaarsvoorsitter aangewys is. Hy studeer BA met Musiek – só kan hy eendag skoolhou en dalk nogsteeds sy droom van konsertviolis word, bewaarheid. Hloni vaar so goed dat hy al drie keer na Oostenryk genooi is om aan ’n internasionale ensemble-kompetisie deel te neem. Hy is selfs al versoek om ’n konsertmeester te wees, dus die leier van die orkes. Ander projekte waarby die ATKV-tak Vredefort Koepel onder meer betrokke geraak het, is om beertjies te brei vir die kinders wat slagoffers is van die oorlog in Oekraïne, en om leesklasse aan te bied. Inderdaad is hierdie ’n bedrywige tak met ’n hart so groot soos die Vrystaatse vlaktes.
Om betrokke te raak by die ATKV-tak Vredefort Koepel, kontak Corlia Kruger by 082 732 0257 of stuur ’n e-pos na corliwent@gmail.com. Besoek https://atkv.org.za/ons-storie/takke/ om jou naaste ATKV-tak of ATKV-jeugtak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.