Slegs-leerders-produksies stel hoë standaard
Produksies waarvan die hele geselskap – die regisseur(s), skrywer(s), spelers en tegniese personeel – almal hoërskoolleerders is, kan jaarliks vir ATKV-Tienertoneel se slegs-leerders-afdeling ingeskryf word.
Die ATKV moedig hiermee ’n skeppende gees onder leerders aan. ’n Volwassene kan steeds as mentor optree deur basiese leiding en spelleiding binne perke te verskaf, maar betrokkenheid by die kreatiewe aspekte mag nie 30% van hierdie slegs-leerders se skepping oorskry nie. Hierdie inisiatief het ’n sterk opvoedkundige basis en het ’n ongekende hoë standaard in 2024 opgelewer.
Uit die 187 ATKV-Tienertoneelproduksies wat vanjaar deelgeneem het, het 26 produksies bestaan uit slegs-leerders-produksieinskrywings.
Vier van hierdie produksies het deelgeneem aan ’n streeksfeesfinaal, wat op sigself ’n groot prestasie is omdat mentors al 187 deelnemende produksies onder dieselfde kam skeer.
Dit is ook die eerste keer sedert 2019 dat ’n slegs-leerders-produksie na die nasionale finaal deurgedring het.
Die ATKV is besonder trots op elkeen van hierdie dapper deelnemers en is veral beïndruk deur hul passie en talent om alle aspekte van teatermaak (spel en regie, tekste skryf, kostuums, dekor, grimering, klank, beligting, verhoogbestuur en choreografie) in simbiose te laat saamleef in ’n hoogtepuntseisoen waartydens 60 jaar van uitnemendheid gevier is.
Hier is die top-10-ranglys van ATKV-Tienertoneel 2024 se slegs-leerders-kategorie:
10. Wroeg deur die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad
9. Vlam sonder einde deur die Selborne College in Oos-Londen
8. Van glas deur die Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein
7. Kern van die duiwels deur Grey Kollege Sekondêr in Bloemfontein
6. J(A)AG deur die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes
5. Om lief te hê deur die Hoërskool Tygerberg in De Tijger, Kaapstad
4. Die plan deur die Hoërskool Zwartkop in Centurion
3. Jane en John deur die Hoërskool Randburg in Randburg
2. Vlieënde waardin deur die Hoërskool Eldoraigne in Centurion
1. Kamp saam deur die Hoërskool Durbanville in Durbanville (nasionale finalis)
Baie geluk aan elke slegs-leerders-produksie asook aan dié wat vanjaar se top-10-ranglys gehaal het.
Ons sien daarna uit om julle stories in 2025 te hoor.