So maklik soos een, twee, drie
Incke van Wyk van die ATKV-tak Zastron was nog besig met haar studies as ’n graad R-juffrou toe sy die idee vir ’n besonderse boek gekry het. Sy moes ’n taak doen oor hoe om wiskunde by kleuters te bevorder en dit was vir haar ’n nommerpas uitdaging. Incke, wat reeds in daardie stadium Piggy Maths-klasse saam met dr. Elsie Schoombie van Bloemfontein aangebied het, het hierdie agtergrond gebruik om die kreatiwiteit behoorlik te laat vloei.
“Ek het begin sketse verf en het ’n storie geskryf wat maklik is vir kinders om te onthou,” vertel Incke.
“Ek het dit toe eers by ons eie kleuterskool gebruik en gesien dat dit werklik ’n invloed op kinders en hul begrip van wiskunde het. Omdat ek ’n passie vir wiskunde en kinders het, was dit my droom om kleuters regdeur Suid-Afrika met hul eerste wiskundebegrippe te kan bemagtig.”
En nou word daardie droom waar, want dié taak was die voorloper van Incke se splinternuwe boek, Getalleplaas, wat na verwagting in Mei gedruk en versprei gaan word.
“Op my eie sou ek nie die boek aan baie mense kon vrystel nie, maar die ATKV het my hand gevat en my sketse vir grafiese ontwerp gestuur. Hulle druk ook al die boekies en gaan help om dit landswyd na kleuterskole te versprei.”
Vir Jaco Spies, die ATKV-streeksbestuurder van die Oos- en Noord-Kaap-streek, was dit ’n belangrike projek om by betrokke te raak.
“Die ATKV glo in die ontwikkeling van lees- en syfervaardighede, veral in die grondslagfase. Ons kinders se wil om te lees moet juis aangespoor word deur inisiatiewe, soos hierdie een. Getalleplaas is ’n oulike verhaal wat lees holisties benader. Die ATKV glo dat hierdie boekie die jongspan se eerste ontmoeting met 0 tot 10 met pret en lag gaan dien!”
Wat kan ons van die boek verwag?
Incke vertel dat die boek vir kleuters van 2 tot 5 jaar geskik is en dit help hulle om op ’n speel-speel manier hul eerste wiskundige begrippe vas te lê.
“Deur die storie en die sketse te herken, leer die kleuter die getalnaam en leer dan só die volgorde van die getalle. Die boek help ook die kleuter om te leer hoe om konkreet te tel en dit dan te assosieer met hoe die getal lyk. As ’n kleuter se wiskundebegrippe van kleins af vasgelê is, is wiskunde nie net vir hulle ’n abstrakte idee nie. Hulle leer só dat wiskunde ook pret is! Boonop bevorder dit ook ons Afrikaanse taal by kleuters, asook hul liefde vir lees en boeke.”
Goed begin is goed gewin
Incke het groot waardering vir dr. Elsie Schoombie, wat in wiskunde-onderrig spesialiseer en wat groot insae in die boek gelewer het. Sy het met die konsepontwikkeling vir die getalle gehelp om seker te maak dat dit vir die optimale ontwikkeling van kleuters gepas is.
“Getalleplaas help kleuters om deur middel van ’n prettige, visueel geïllustreerde storie assosiasies te maak om die basiese getalle te leer ken en te onthou,” gesels dr. Schoombie.
“Dis ongelooflik belangrik dat kinders vanaf 'n baie jong ouderdom 'n positiewe ingesteldheid vir wiskunde ontwikkel. Dit verseker dat kinders dan gemaklik 'n goeie grondslag vorm wat die basis sal kan vorm vir die liefde en begrip van wiskunde. En dis algemeen bekend dat ’n begrip van wiskunde die deure na talle studierigtings en beroepe in die latere lewe oopmaak. Goed begin is goed gewin,” sê sy.
Waar kry ek die boek?
Vind meer uit en bestel dit by 076 066 4219.