Sopkombuis verlig nood in Boland
Om uit te reik na ’n gemeenskap in nood is een van die natuurlikste dinge vir Mercia Vergotine en haar gesin in Wolseley, veral in die lig daarvan dat die behoefte in die Witzenberg munisipale area in die Wes-Kaap geweldig groot is. Toe Mercia se man, Desmond, in 2022 oorlede is, het sy en haar kinders besluit om ’n sopkombuis ter nagedagtenis van hom te stig. Op dié manier kon hulle voortgaan om Desmond se liefde vir sy mense uit te leef. Desmond was jare lank die eienaar van die Vergotine Vervoerdiens in Wolseley en het by verskeie geleenthede gratis vervoer aan families en die gemeenskap verskaf. Die ATKV-tak Ubiqua het besluit om die Vergotines se sopkombuis heelhartig te ondersteun.
Aanvanklik het Mercia en haar gesin net brood en sap aan honger mense in die gemeenskap van Wolseley en Ceres uitgedeel. Soos die seisoene verander en die wind skraler begin waai het, het hulle die spyskaart aangepas en kon honger mae gevul word met warm sop, brood, kerrie, breyani, pasta en groente. Dié etes is aanvanklik by hul huis uitgedeel, maar soos die nood gegroei het, het hulle ’n tweede uitdeelpunt in die middedorp begin, waar daar elke Woensdag agt potte op ’n slag aan die kook gehou word. Die grootste deel van die fondse kom uit die Vergotines se sakke, met bykomende bydraes van gemeenskapslede en ’n kerk wat donasies gee.
Ann Koopman, voorsitter van die ATKV-tak Ubiqua, sê die werkloosheidsyfer in die Wolseley-gebied is baie hoog en dit is danksy projekte soos dié van die Vergotines dat baie mense steeds ’n gesonde maaltyd kan geniet. “Ons besef dat so ’n projek nie kan bestaan sonder volhoubare befondsing nie. Ons glo met ons bydrae sal die sopkombuis selfs méér honger mae kan voed,” sê Ann.
Die Ubiqua-tak het jaarliks op 16 Junie ook hul eie sopkombuisprojek by die provinsiale hospitaal in Ceres. “Pasiënte kom van heinde en verre uit die Witzenberg-distrik na die hospitaal. Baiekeer is dit ouers met klein kindertjies, swanger vroue, bejaardes en gestremdes. Hulle sit soms vir ure – soms dae – voordat hulle gehelp word. Ceres kan bitter koud word in die winter. Ons tak maak tot ses potte sop en deel dit daar in die parkeerarea uit. Saam met die sop word broodjies en vetkoeke gegee. Mense kan soveel kom haal soos wat hulle wil. Selfs die pasiënte wat in die hospitaal opgeneem is, kom kry vir hulle! Niemand word uitgesluit nie,” sê Ann. Die Ubiqua-taklede voorsien self die sop, brood en vetkoek. Volgens Ann sal hulle dié sopdag graag meer as een keer ’n jaar wil hou om in die geweldige behoefte te voorsien.
Om betrokke te raak by die ATKV-tak Ubiqua, kontak Ann Koopman by 082 821 5009 of stuur ’n e-pos na ann.koopman007@gmail.com. Besoek https://atkv.org.za/ons-storie/takke/ om jou naaste ATKV-tak of ATKV-jeugtak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.