Speel en leer met prettige idiome-bordspel
Is idiome en hul betekenis vir jou Grieks? Wel, dan is Meer bek as binnegoed, die ATKV-jeugtak Prieska se interaktiewe bordspeletjie, ’n moet om op ’n prettige wyse jou idioomkennis op te skerp.
Dié tak van die Hoërskool Prieska het onder leiding van juf. Esmé du Toit twee jaar lank geswoeg en gesweet om ’n idiome-bordspeletjie te ontwikkel wat jonk en oud kan geniet.
“Kinders sukkel ongelooflik om idiome te onthou en ek het na ’n kreatiewe oplossing gesoek om kinders se idioomkennis uit te brei,” vertel Esmé.
Sy het saam met leerders kopgekrap en leidrade (prentjies) vir die bordspeletjie ontwikkel.
Sonél Brits, besturende direkteur: ATKV-MSW, sê hulle was so beïndruk met die tak se inisiatief dat hulle nie gras onder hul voete laat groei het om die bordspel verder uit te bou tot ’n gehalteproduk nie.
“Anton F. Prinsloo skryf in sy spreekwoordeboek Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom dat spreekwoorde en uitdrukkings die siel van die taalgemeenskap openbaar. Dit is dus vir die ATKV onontbeerlik om te help seker maak dat idiome nie die spreekwoordelike emmer skop nie,” sê Sonél.
“Hierdie is beslis ’n produk wat onderwysers met groot vrug sal kan gebruik, maar gesinne en vriende kan mekaar ook op ’n prettige manier uitdaag en op die koop toe ook Afrikaans bevorder.”
Die speletjie kan deur enige aantal spelers gespeel word en spelers kan ook in spanne deelneem. Die spelers trek ’n kaartjie en moet dan die idioom raai deur na die leidraad te kyk. Die antwoord en betekenis van die idioom verskyn agterop die kaartjie.
Vir elke korrekte antwoord skuif spelers een blokkie op die bord aan. Indien die speler die betekenis van die idioom ook ken, kan hy/sy nog ’n blokkie aanskuif. Daar is ook kniehalterblokkies op die bord wat sake vir spelers kan bemoeilik.
Die speletjie kos R370 (posgeld uitgesluit). Klik HIER vir die bestelvorm.
Vir enige navrae stuur ’n e-pos na louisef@atkv.org.za.
Addisionele kaartjies (leidrade) is ook beskikbaar.
Moenie gras onder jou voete laat groei nie ... koop die lekkerste bordspel in Afrikaans nou!