Stik-stik voort!
Ons oumas en oumagrootjies was meestal heel bedrewe met die naald. Maar hoeveel mense is vandag nog in naaldwerk gekonfyt en kan iets vir hulself maak? Lorencia Kasper, die voorsitter van die ATKV-tak Piket Bo-Berg, sê hul tak het besluit dat hulle graag wou leer naaldwerk doen en só het hul eerste handvaardigheidsklas die lig gesien. Piket Bo-Berg is ʼn klein gemeenskap wat in die Weskus-distriksmunisipaliteit geleë is.
“Die idee vir ons handvaardigheidsklas het begin toe ons almal idees vir projekte onder mekaar uitgeruil het. Iemand het met die idee vir ʼn handvaardigheidsklas vorendag gekom en ons het op die ou einde besluit ons gaan dit doen omdat almal gewillig was en graag wou leer.
“Nie een van ons het al voorheen met ʼn masjien gewerk nie. Ons het ook gedink dat dit goed vir mense sal wees om ʼn vaardigheid aan te leer om dalk ʼn inkomste daarmee te verdien. Hulle kan dit dan verder in die toekoms benut.”
Lorencia vertel dat hul eerste klasse op 19 en 20 April plaasgevind het. “Ons het die Vrydag probeer om aan die masjien gewoond te raak. Ons het geleer hoe om daarop te werk, hoe om reguit te stik en die Saterdag het ons begin om voorskote te maak.”
Dit was vir almal groot pret en hulle beoog om nog klasse te hou.
“Die mense het so baie daardie dag geleer. Ek het my weereens verstom hoe baie ʼn mens in ʼn kort tydjie kan leer en doen. Waar ons nog nie voorheen eens met ʼn masjien gewerk het nie, het ons in ʼn dag se tyd ʼn voorskoot klaargemaak! Ek dink mense vergeet so gou waaroor hulle eintlik beskik en hierdie tipe klasse is net wat hulle nodig het om weer vir hulle daardie selfvertroue te gee!”
Lorencia sê sy dink so ʼn handvaardigheidsprojek is ʼn oulike idee vir ander takke ook. “Baie mense kan daarby baat vind om iets met hul hande te doen. ʼn Mens leer so baie daaruit en dit is ʼn vaardigheid wat beslis weer in die toekoms benut kan word. Die terugvoering ná die klas was baie positief. Elkeen het dit geniet en kon nie uitgepraat raak oor dit wat hulle verrig het nie. Net om daardie voorskoot te sien en te besef dat jy dit met jou eie hande gemaak het, was onskatbaar!”
Om deel van ʼn tak te wees
Lorencia vertel dat sy aan die begin van 2023 deur ATKV-streeksbestuurder Elize Fortuin genader is. “Ons het oor die ATKV gesels en wat dit alles behels, en sy het voorgestel dat ons ʼn tak hier open. Ek het saamgestem en só het die tak Piket Bo-Berg ontstaan.
“Ek was aanvanklik ʼn bietjie skepties, want ek het nie geweet wat dit alles behels nie,” gesels Lorencia.
“Namate ons egter gevorder het en ek en Elize saamgewerk het, het ek al hoe meer van die idee gehou. Ek is verlede jaar as voorsitter verkies en is vanjaar weer met die posisie toevertrou.”
Lorencia sê hul tak het met slegs twee lede begin, maar hulle groei nou fluks.
“Ek glo ons sal nog groot hoogtes kan bereik, want ek sien in elkeen van ons lede daardie bereidwilligheid om deel te wees.” En ons kan net saamstem, want met sulke kreatiewe projekte, behoort dié tak nog groot dinge in die toekoms te vermag.