Swierige bal vier die pa-en-dogter-band

Daar is iets spesiaals aan die verhouding tussen ’n pa en sy dogter en die Eduplus Onafhanklike Skool in Bloemfontein het onlangs dié spesiale band gevier. Hulle het op 8 April ’n swierige pa-en-dogter-bal aangebied, waarvan die ATKV die grootste borg was.
“Die bal was nie net vir pa’s en hul dogters van Eduplus nie, maar vir almal in Bloemfontein. Dit was ook ’n geleentheid waar dogtertjies wat nie pa’s het nie deur ’n ander vaderfiguur na die bal geneem kon word,” sê Louise Sevenster, een van die organiseerders van die bal.
Die bal word sedert 2013 aangebied vir dogtertjies tussen die ouderdom van vyf en 13 en vanjaar het ongeveer 250 pa’s en dogters die geleentheid bygewoon. Die kaartjies was reeds ’n week voor die tyd uitverkoop.
Die pa’s en hul kroos het ’n prettige aand gehad waartydens die kinders se gesigte geverf is, hulle saam met maatjies kon baljaar, saam met hul pa’s dans en ’n heerlike maaltyd kon geniet.
“Dit is ’n geleentheid vir pappas en hul dogters om tyd saam te spandeer, om mekaar beter te leer ken en dit is ’n aand waartydens hulle spesiaal kan voel.
“Die ATKV het ’n groot rol gespeel om die aand moontlik te maak. Ons is dankbaar dat hulle die bal spesiaal gemaak het,” sê Louise.
Die ATKV-tak Gemeenskapsteater het geld geskenk vir die klank en beligting en die ATKV-streek Bloemfontein het geskenke laat maak wat die pa’s en dogters vir mekaar gegee het.
“Een van die hoogtepunte van die aand was die geskenke wat die dogtertjies en hul pa’s vir mekaar kon gee, met mooi kaartjies daarby wat elkeen se waardering uitgespreek het. Dit was vir die ATKV wonderlik om die geskenkies te kon borg,” sê Gertjan Holtzhausen, ATKV-streekbestuurder.
Gertjan sê dit was vir die ATKV baie belangrik om by ’n projek soos hierdie betrokke te raak.
“Ons wil betrokke wees by hartsprojekte soos hierdie. Dit is uniek en spesiaal vir baie dogtertjies in en om Bloemfontein.
“Mense was honger vir so iets en ons het wonderlike terugvoer gekry. Ek dink ons en Eduplus het dit reggekry om baie meisies se aand te maak en hul band met hul pa’s nog sterker te maak.”