Taal, kultuur gevier by skool se Afrikaansweek
Afrikaans is veel meer as net ons moedertaal, ons huistaal. Dit is ons hartstaal. Dis die taal waarin ons lees en bid, skryf en dig en juig. Om die wonders van Afrikaans te vier, bied die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad hierdie jaar weer ’n opwindende Afrikaansweek aan met ’n hele klomp spesiale geleenthede vir hul leerders. Die week strek van 6 tot 10 Maart en word ingekleur met praatjies, musiekgeleenthede, boeke en sosiale aktiwiteite – alles in ons mooie moedertaal en ter viering van haar uniekheid.
Die week het afgeskop met ’n besoek van Elize Fortuin, ATKV-streeksbestuurder van die Skiereiland en Weskus. Sy en haar span het die leerders weer bewus kom maak van die rieldans en volkspele se plek in die Afrikaanse kultuur. Maandagmiddag het die graad 8- tot graad 12-leerders mekaar die stryd aangesê om die potjiekosvure tydens ’n potjiekoskompetisie. Elke graad was ook verantwoordelik vir hul stalletjie met Afrikaans as tema en ’n tafel waarop hul potjiekosdis aan die beoordelaars voorgesit moes word. Die potjiekosfoendies het van 14:30 tot 18:30 die geleentheid gehad om hul potjie aan die prut te hou. Hierna het die beoordeling van die stalletjies, die gees en die potjiekos plaasgevind en kon gaste weglê aan die watertanddisse. Die wengraad het die eer gekry om as die skool se eerste potjieskoswenners uit die stryd te tree en kon uitsien na ’n groot bederf tydens die Afrikaansweek.
Om 19:00 op dieselfde aand is alle belangstellendes na die ATKV-Redenaarsaand in die skoolsaal genooi. Die skool se deelnemers het vanjaar tydens hierdie byeenkoms die geleentheid gekry om hul toesprake vir deelname aan dié gewilde kompetisie later vanjaar te oefen.
Op Dinsdag, 7 Maart het die graad 12’s die geleentheid gekry om hul onderhoudvoeringsvaardighede te slyp. Die joernalis, Amanda Botha, het ’n onderhoud gevoer met die bekende skrywer en oudleerder van die Hoërskool Jan van Riebeeck, Herman Lategan, oor sy boek, Hoerkind. Daarna het die res van die Jan van Riebeeckers deur die loop van die dag die geleentheid gekry om te luister na verskeie LAPA-skrywers en -digters. Daar was ook ’n LAPA-boekuitstalling en leerders kon kom soek na ’n toevoeging tot hul boekrakke. Die JvR-onderwysers het mekaar uitgedaag tydens ’n potjie Kahoot!, toe hulle hul Afrikaansvaardighede beproef het en gekyk het wie die taalvrae die vinnigste korrek kon beantwoord.
Daar heers besonderse opgewondenheid oor ’n baie spesiale geleentheid wat Woensdagaand aangebied word, sê Roosmaryn Schwartz, die skool se vakhoof van Afrikaans.
“Ons eie JvR-skryfbundel, DIE VRYEVERS, word bekendgestel met die beste skryfwerk wat ons Jan van Riebeeckers in 2022 opgelewer het. DIE VRYEVERS bestaan uit opstelle, gedigte en mooi skryfsels uit die penne van ons leerders. Tydens hierdie hierdie spesiale geleentheid gee ons aan ons oudleerders wat in Afrikaans werk spesiale erkenning. Lize Beekman is ons gaskunstenaar en sal ook van ons leerders se werk voorlees,” sê Roosmaryn.
Op Donderdagoggend, 9 Maart word die beste speller per graad aangewys. Leerders het oor die afgelope paar weke speltoetse geskryf en só is die beste speller per klas geïdentifiseer. Tydens pouses pak die wenners mekaar en daarna word ’n spelkampioen per graad gekroon.
Roosmaryn sê, “Elandré Schwartz is Donderdagaand die gaskunstenaar en ons kan nie meer wag nie! Kaartjies is teen R150 op Quicket beskikbaar. ’n Hamburger en skyfies kan teen R50 op Karri bestel word en daar sal ook ’n snoepie beskikbaar wees.”
Op Vrydag, 10 Maart vind die skool se opwindende talentkompetisie plaas. “Jan van Riebeeckers dans, sing, bespeel instrumente en dra gedigte voor. Dit beloof om, soos in die verlede, ’n wonderlike geleentheid te wees,” sê Roosmaryn.
Van Riebeeckers sluit die week af met hul immergewilde JanHapKardoes, wat teen R65 op Karri bestel kan word. ’n Geurige maalvleisvetkoek, ’n koeksister, ’n melktertjie en ’n Hertzoggie maak deel uit van hierdie besondere erfenisdis-pakkie.
Roosmaryn sê, “Ons Afrikaansdepartement glo en vertrou dat ons leerders verryk sal word deur al die wonderlike blootstelling aan Afrikaans!”