‘Taalgenoot’-foto’s eersdaags by uitstalling te sien
Vir dekades bring Taalgenoot, die ATKV se bekroonde tydskrif, vir sy lesers boeiende leesstof oor Afrikaans, kuns, maatskaplike kwessies en leefstylstories wat inspireer en debatte ontketen.
Dit is egter sy voorblaaie en fotostories wat mense aan die praat kry. Dít is hoekom Taalgenoot oor die jare heen ’n tuiste op soveel koffietafels gevind het.
Die beelde is soveel meer as blote foto’s – dit is kunsvorme wat verdien om gevier te word.
Relevant Art in die Paarl in die Wes-Kaap het besluit om ’n unieke uitstalling te hou om dié tydskrif se merkwaardige foto’s en voorblaaie ten toon te stel.
“Ons het ’n groot liefde vir Afrikaans en omdat ons ook die Taalmonument hier in die Paarl het, is dit vir ons belangrik om Afrikaans te bevorder tot die beste van ons vermoë,” sê Sarina Human van Relevant Art.
Sy het verduidelik dat hulle diep beïndruk is deur die tydskrif se visuele elemente en dit ’n uitstekende idee geag het om dit op hul platform uit te stal.
“Dit is vir ons belangrik om mense bewus te maak van wat die tydskrif vir ons taal en ons kultuur beteken. Dit is eintlik soveel meer as net ’n tydskrif. Dit is kuns wat Afrikaans bevorder.”
Die fotograaf André Badenhorst is verantwoordelik vir meeste van die foto’s en voorblaaie van die tydskrif, en Sarina meen hy is een van ons land se puikste fotograwe.
“André is ongelooflik talentvol en dit is duidelik dat daar baie beplanning en moeite gedoen word met sy foto’s.”
Die uitstalling sal vanaf 26 Maart tot 24 April by die galery te sien wees.
Volgens André is dit vir hom ’n groot eer dat sy werk die nodige erkenning kry.
“Dit is vir my as fotograaf altyd ’n eer as mense my werk raaksien en vir my ’n platform bied waar my werk uitgestal kan word.”
Hy sê Taalgenoot het vir hom as fotograaf die geleentheid gebied om sy passie uit te leef as konseptuele fotograaf.
“Ek kry die geleentheid om stelle te bou en moeite te doen met die foto’s. Taalgenoot het die kunstige kant in my aangewakker.”
Volgens André is dit als te danke aan die ontslape redakteur, Johan Jack Smith, wat die potensiaal in hom raakgesien het.
“Johan was die een wat my die geleentheid gebied het om Taalgenoot se voorblaaie af te neem. Dit is te danke aan hom dat ek vandag kan doen waarvoor ek lief is en in die proses ook ongelooflike talentvolle mense ontmoet het.”
Klik hier om die nuutste uitgawe van Taalgenoot te lees, en ontdek inspirerende stories, vars perspektiewe en taalvreugde: https://atkv.org.za/taalgenoot/