‘Taalgenoot’-foto’s maak ’n draai op Vrystaat Kunstefees
Wat kry jy as ’n fotograaf en ’n redakteur – albei uiters kreatief en met ’n stewige rebelse streep – los laat op ’n Afrikaanse tydskrif wat onlangs 91 jaar oud geword het? Die antwoord: Taalgenoot (TG) met sy oorspronklike voorbladfoto’s, maar ook ’n splinternuwe foto-uitstalling.
Beeldspraak, met trots aangebied deur Taalgenoot en André Badenhorst, debuteer op die Vrystaat Kunstefees en moet beslís nie misgeloop word nie. Met foto's van onder andere Neil Sandilands, Gérard Rudolf en wyle Shaleen Surtie-Richards gaan ’n ieder en ’n elk die geleentheid kry om te sien hoe Taalgenoot dit regkry om met puik fotografie stories op ’n ander manier te vertel.
“Ons praat al lank oor die moontlikheid van ’n uitstalling vir Taalgenoot, die kwartaallikse kultuurtydskrif van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV). Ons wou aanvanklik so ’n uitstalling in Johannesburg aanbied, maar nou gaan ons Bloemfontein toe,” vertel Johan Jack Smith, redakteur van Taalgenoot.
André en Johan se paaie het op Facebook gekruis en dit was juis André se alternatiewe inslag en sy gritty foto’s wat grense toets wat Johan se oog gevang het.
“Ek, my besigheidsvennoot Maritsa Bartmann en Johan het ontmoet en ná ’n paar biere besluit om twee weke later die eerste voorblad met akteur Gérard Rudolf te skiet… En die res is geskiedenis,” sê André laggend.
“Dit is net so lekker om foto’s vir TG te neem. Omdat die voorblaaie konseptuele werk is, kan ons ons eie wêreld skep. Ja, Johan druk my in ’n rigting in, maar hy gee my ook kreatiewe vryheid. Elke voorblad wat ons doen is iets anders.”
Johan meen dis André se goeie oog en vermoë om ’n oomblik so goed vas te vang wat TG se foto’s spesiaal maak.
“André is baie, baie goed en hy het ook nie ’n studio nodig om baie goeie foto’s te neem nie. Ja, sy idees is soms ’n bietjie aweregs en ek moet hom soms ’n bietjie vra om rem aan te draai – ter wille van ons lesers – maar daar is min fotograwe wat die regte oomblik so goed kan vasvang soos hy.”
Dit was vir die duo moeilik om die 24 foto’s te kies wat deel van die uitstalling vorm.
“My sterkpunt is meer konseptuele werk, maar Johan wou ook graag fotojoernalistiek ten toon stel … Ek dink ons het uiteindelik dit reggekry om ’n goeie mengsel saam te stel,” sê André.
Johan sonder moeilik sy gunstelingfoto’s uit.
“Ek hou van almal en dis seker ’n cliché. Die Dawid Minnaar-voorblad was besonders. Hoe hy in daardie stadium gelyk het – met sy lang hare en baard – het fantasties gepas by die ou kar en ons stel in die Johannesburgse middestad.
“Die foto’s van boere in die noorde wat op bulle rondry by die Rayton Rodeo is natuurlik ook iets om te beleef en dan die foto van die tannie, ’n inwoner van die Gerald Fitzpatrick-tehuis, wat sit en eet, som die somberheid van haar situasie so goed op.”
Vir André staan die eerste werk wat hy vir TG gedoen het die meeste uit.
“Dis dalk oor ek so groot fan van Gérard is. Dit was ’n fotosessie wat geïnspireer is deur die sewentigs. Hy sit by ’n kombuistafel, eet poeding en bid. Ek hou van die komplimentêre kleure – die blou en die geel; Maritsa wat die stilering gedoen het, het dit baie goed gedoen en as jy mooi kyk, sal jy sien hy dra ’n ring met ’n skedel … Klein detail wat die foto so interessant maak.”
Corneli van den Berg, feesdirekteur van die Vrystaat Kunstefees, sê sy was dadelik geïnteresseerd toe Johan en Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur by die ATKV, haar nader.
“Benewens dat die ATKV ’n baie belangrike vennoot van die fees is, is André Badenhorst se foto’s so merkwaardig dat dit ’n geleentheid was wat ons nie kon laat verbygaan nie.
“Dit gaan ’n enorme bydrae lewer tot die feeservaring. Die kwaliteit van die fotografie is uitstekend en dit is belangrik vir ons om Vrystaatse gehore aan sulke uitmuntende werk bloot te stel,” sê sy.
Daar sal A3- en A1-foto’s wees wat deur André geteken is. Belangstellendes kan bestellings plaas en afdrukke koop. Daar is twee voorbeelde van rame op die uitstalling.
“Ek is ook die hele week op die fees om mense meer te vertel oor die foto’s waarvan hulle hou,” sê Johan.
Die uitstalling is te sien van 2 tot 8 Oktober 2022 in die voorportaal van die Eeufeeskompleks van die Universiteit van die Vrystaat. Die amptelike opening is Sondag, 2 Oktober om 17:30.
Vir meer inligting, kontak Johan Jack Smith by johans@atkv.org.za of 076 165 8282.