Tak help met voedselsekerheid in Senekal
Die leerders, onderwysers en ouers van die Laerskool Rorisang in Senekal se harde werk en ondernemingsgees stel ’n voorbeeld vir die res van die inwoners in die gemeenskap.
Dit is hoe Gert Keulder, voorsitter van die ATKV-gesinstak in dié dorpie in die Vrystaat, die impak van die Laerskool Rorisang se groentetuinprojek beskryf.
Die skool is in die township neffens die dorp geleë.
Andriette Potgieter, ATKV-streeksbestuurder in die Vrystaat en Noord-Kaap, het Gert in 2019 genader en hulpbronne soos onder meer saad en kunsmis aan die Senekalse ATKV-tak verskaf ten einde ’n volhoubare groentetuinprojek daar te vestig.
“Ek is seker al vir 12 jaar ’n lid van die ATKV en het agt jaar gelede die voorsitter van die Senekalse tak geword,” sê Gert, wat aanvanklik aangesluit het omdat hy en sy vrou mal is oor kamp en die ATKV se oorde ten volle wou benut.
“Ek was destyds in die polisie voordat ek 30 jaar lank vir die munisipaliteit in Senekal gewerk het, dus ken almal op die dorp my. Senekal is maar ’n klein plekkie met sowat 2 500 inwoners en nog so 30 000 mense wat in die township bly.
“Ek het aanvanklik die skole binne die dorp vir die projek genader, maar daar was nie juis belangstelling nie. Ek het toe besluit om Rorisang te kontak, want hulle het reeds hul eie groentetuin gehad.
“Die skoolhoof was baie opgewonde en het my met sy adjunk, Mamaseli Tladi, in verbinding gestel. Ek en Mamaseli ken mekaar al jare lank en hy was gretig om saam met my te werk.
“Ons het lekker lank gesels en ek het vir hom gesê hy moet die voortou neem, terwyl ek waar nodig is leiding sal verskaf.
“Mamaseli is baie entoesiasties en uiters trots op die tuin. Die tuin floreer vier jaar later meer as ooit en dien ook as ’n bron van kos vir die leerders. Rorisang kry dit reg om elke week byvoorbeeld ’n pakkie wortels of ’n ander groentesoort aan elke kind in die skool te verskaf. Dit was juis die plan gewees; die kinders help om die tuin nat te lei, die ouers sit hand by met sade en gereedskap, en aan die einde van die dag baat almal by die vrugte van hul arbeid.
“Ek was verlede week weer daar en Mamaseli was besig om spinasie te oes. Hulle gaan pragtig aan, daar is reeds ’n stukkie groentetuin van sowat 30 by 20 meter wat onder nette toegespan is. Dit is ’n wonderlike projek en die toekoms lyk blink.”
Gert sê hy hoop om binnekort bykomende toerusting vir die projek te bekom.
“Veral ’n tuinslang, want tans lei hulle die tuin met emmers nat, dus sal ’n tuinslang die werk vergemaklik.”
Hy is ook vol lof vir hoe die leerders hulleself gedra.
“Die kinders se dissipline is pragtig. Ek is betrokke by die Gideons waar ons Bybels by skole uitdeel en ek het al nare dinge ervaar, maar hierdie kinders is pragtig.”
Om by te dra tot die ATKV-gesinstak Senekal se werksaamhede, stuur ’n e-pos na brink312@gmail.com of skakel 082 891 0419.