Tak hou Kersparty vir Gerald Fitzpatrick-tehuis
Die ATKV-tak Kunstejêm het weer die voorreg gehad om die dames van die Gerald Fitzpatrick-tehuis in Bertrams, Johannesburg, te bederf met ’n Kerspartytjie.
Dié tak is al sedert 2022 betrokke by die Gerald Fitzpatrick-tehuis en het die digby 80 dames wat in die tehuis woon ook verlede jaar op ’n Kersete en geskenke trakteer. Die tak het vroeër in 2023 ook ’n Paasete vir die dames aangebied.
2023 se Kerspartytjie was ’n feestelike affêre met musiek, ’n geskenkie vir elke dame en ’n heerlike middagmaal. Die ATKV-tak Kunstejêm se lede het die geleentheid aangegryp om weer by die tannies te gaan inloer.
“Die blydskap op die tannies se gesigte as hulle ’n geskenkpakkie ontvang … Jy kan nie daai blydskap en dankbaarheid met geld vervang het nie,” sê Hannelie van Schalkwyk, taktesourier.
Wayne Lonn, ondervoorsitter van die tak, het weer die rol van Kersvader gespeel en vertel dat dit ’n voorreg was om weer van sy gunstelingtannies te kon sien en vir hulle iets spesiaal te gee om die feesgety te gedenk.
Die Gerald Fitzpatrick-tehuis se inwoners is almal afhanklik van SASSA-toelaes en dus leun die tehuis swaar op skenkings van die publiek om die inwoners dan en wan te bederf met ietsie ekstra en spesiaal.
“Ek dink dis belangrik om iemand te wees vir iemand wat niemand het nie. Hulle is afgelaai met hulle sakkies, en vir ons om op te daag en net daar te wees, is al klaar ’n groot pluspunt. Dis wonderlik om op hierdie manier ’n verskil te kan maak,” sê Marizanne Bowles, taklid.
Nicole van Eeden, fondswerwer vir Gerald Fitzpatrick, sê hulle is baie dankbaar dat die ATKV-tak Kunstejêm se lede hulle met die inwoners van die tehuis bemoei.
“Toe ek (bykans ’n week ná die Kersete) daar instap, toe begin hulle al te praat oor Vrydag se funksie. Dit het baie vir hulle beteken, eerstens, om ’n geskenkie te kry.
“Hulle sê ook om almal lekker te sit en die middagete saam te geniet, was definitief ’n hoogtepunt vir hulle, maar hulle sê die ding wat vir hulle die meeste beteken het, is die feit dat almal van die ATKV (-tak Kunstejêm) daar was om self die geskenke uit te deel, om te help om die borde kos vir hulle te bring, om self tyd met hulle deur te bring. As mense iets aan hulle skenk, word die goed dikwels net afgelaai en die mense ry dan weer – hulle bly nie eintlik om tyd saam met die tannies te spandeer nie, so dít het regtig baie vir hulle beteken,” sê Nicole.
Stuur ’n e-pos aan fundraising@gfhome.org om ’n donasie te maak of om betrokke te raak by die Gerald Fitzpatrick-tehuis.