Takprojek beskerm boeke en bou gemeenskap
Die ATKV-tak Alies is ’n nuwe tak wat in 2023 gestig is, maar taklede woel en is flink aan die gang met verskeie projekte.
Hul takjaar het afgeskop met ’n boekeoortrekprojek by die Laerskool Aliwal-Noord. Ilona Kotze, die voorsitter van die ATKV-tak Alies, sê hulle is in hul noppies oor die manier waarop hierdie projek gestalte gekry het.
“Ons het ’n behoefte raakgesien dat die splinternuwe leesboeke wat die skool aangeskaf het, oorgetrek moet word voordat die leerders dit kry. Dikwels loop ’n kind ’n hele week met die boek in sy tas voordat hy dit vir ’n ouer gee om oor te trek. Sommige huishoudings het net nie ekstra plastiek waarmee die boeke oorgetrek kan word nie.
“Omdat boeke so vrek duur is, het ons gevoel dit is nodig om dit oor te trek om die boeke só ’n langer leeftyd te gee. Dit is regtig besondere boeke wat ons vir die graad 4’s tot graad 7’s gekry het – boeke soos Roald Dahl se Charlie en die sjokoladefabriek en Jaco Jacobs se Superheroes vlieg net saans en Dinge wat ek nie van skape geweet het nie is deel van die skat van meer moderne boeke wat ons vir die skool uitgesoek het. Ons wou nie graag hê dat hierdie boeke moet verniel nie en het besluit om ’n plan te maak en die skool se mammas hierby te betrek. Só is die boekeoortrekprojek gebore,” sê Ilona.
Daar is besluit om plastiek, kleeflint en skêre te koop en die ma’s is uitgenooi om op ’n Vrydag en Maandagoggend te kom help om die boeke oor te trek. Sommige kere was daar selfs ’n paar pa’s ook. Die Laerskool Aliwal-Noord het ’n koshuis en baie van die ouers kom haal hul kinders op ’n Vrydag of laai hulle af op ’n Maandag en kon dus maklik by hierdie plan inval. Daar is gesorg vir ’n koffiestasie om alles nog meer gesellig te maak. Die projek het afgeskop aan die einde van Januarie en het oor vier Maandae en Vrydae gestrek.
“Dit het vinnig ontaard in ’n baie gesellige storie. Een mamma het sommer gou aangebied om die volgende Vrydag muffins te bring. ’n Ander een het weer vertel sy sukkel met depressie en het by haar werk bedank. Nou kon sy by hierdie projek inskakel en dit was vir haar heerlik, want sy het gevoel asof sy iets vir iemand kan beteken.
“Een van die wonderlike uitvloeisels van hierdie projek is dat die kinders kon sien hoedat hul ouers betrokke raak by die skool. Hulle het ook gesien hoe belangrik dit is om boeke op te pas en lief te raak vir lees,” sê Ilona.
“Die ma’s wat agter in die skoolsaal gesit en boeke oortrek het, het ook so ’n bietjie insae gekry in hoe ons skooldag verloop. Hulle was meteens nie meer uitgesluit nie, maar het beleef hoe die ou kleintjies hulle saalsang kom doen het. Daar was ook ’n geleentheid toe die graad 4- tot graad 7-dogters na die saal geroep is sodat daar met hulle oor allerlei dogtertjiedinge gesels kon word. Die ma’s wat teenwoordig was, het dit as baie positief ervaar. Hulle het beslis weer vir mammas wat nie daar was nie vertel van alles wat hulle beleef het,” sê sy.
Die volgende projek by die ATKV-tak Alies is binnekort aan die gang. Dan kry die grondslagfaseonderwysers die geleentheid om een van die leesboeke op te voer as deel van die leerders se boekeweek.
Die juffrouens kry groot aftrek in hul kostuums en die leerders geniet dit terdeë. Die boeke word dan later in die klas gelees en behandel. Hierdie projek word ook in samewerking met die ATKV aangebied.
In die tweede kwartaal wag ’n algemene kennis-olimpiade waaraan die leerders in spanne gaan deelneem. Die wenners in elke graad sal hierna teen die ouers meeding.
In die derde kwartaal is dit tyd vir die jaarlikse eisteddfod. 32 skole neem deel aan dié wonderlike kunsgeleentheid waar leerders die kans kry om met hul verskillende talente te spog. Redenaars, drama, sang, dans en nog baie meer kategorieë word aangebied. Die kunsuitstalling wat deel vorm van hierdie eisteddfod is die grootste van sy soort in Suid-Afrika.
“Ná afloop van ons baie suksesvolle boekeoortrekprojek, sien ons baie uit na die res van die jaar met alles wat wag,” sê Ilona.
“Natuurlik verg dit harde werk, maar wanneer ’n mens ná ’n projek terugkyk en die resultate sien, weet jy al die sweet en harde werk wat deel was van die projek was alles die moeite werd.”
Om betrokke te raak by die ATKV-tak Alies, kontak ATKV-streeksbestuurder Jaco Spies by 072 384 3089 of stuur ’n e-pos na jacospies83@gmail.com.