Téhilah-tak bemagtig, bemoedig en inspireer gemeenskap
Die ATKV-tak Téhilah is passievol daaroor om die gemeenskap van Touwsrivier op allerlei maniere te bemagtig. Daarom het hulle onlangs ’n Vroue in die Wetenskap-simposium, asook ’n Life is a Gift-seminaar aangebied, waar die fokus op vroue- en onderwysersbemagtiging was.
Vroue in wetenskap
Clemence Thomas, voorsitter van die tak, sê die Vroue in die Wetenskap-simposium het ten doel gehad om die vroue van Touwsrivier ’n beeld te gee van hoe vroue deur die eeue heen deur diskriminasie in die gesig gestaar is en ten spyte daarvan wonderlike hoogtes bereik het.
Ongeveer 200 vroue het die geleentheid bygewoon en is geïnspireer deur die spreker Edward Foster, ’n dosent in die Universiteit van Stellenbosch se departement van dierkunde, botanie en biochemie. Edward het gaan delf in die geskiedenis en vertel hoe vroue in die akademie in die gesig gestaar is deur voortdurende diskriminasie, terwyl mans erkenning ontvang het vir werk en navorsing wat inderwaarheid deur vroue gedoen is. “Ten spyte hiervan het vroue wonderlike werk gedoen,” sê Clemence. “Ons wou graag ons eie vroue uit die Touwsrivier-gemeenskap ’n idee gee van waar hulle vandaan kom en wat hulle ook kan regkry. Ons het ook baie klem gelê op sosiale invloed: Hoe die samelewing besluit oor wat is goed en nié goed vir vroue nie en hoe om deur hierdie beperkinge te breek.”
Die lewe is ’n geskenk
Om leiers en onderwysers in die gemeenskap te bemoedig en ondersteun, het dié ATKV-tak ’n seminaar, Life is a Gift, aangebied. Die doel van die seminaar was om onderwysers en leiers te motiveer en ’n geleentheid te bied om hul spreekwoordelike bekers weer vol te maak. Dr. Gillian Arendse, wetenskaplike en motiveringspreker, het op sy humoristiese wyse met ’n sterk aanslag waardevolle pitkos gedeel en onderwysers gemotiveer en weer hoop gegee vir die toekoms.
Clemence vertel die gemeenskap van Touwsrivier bestaan uit minder as 10 000 mense, van wie slegs ongeveer 20% voltyds werk. “Dít beteken die gemeenskap gaan gebuk onder geweldige armoede, sosiaal-maatskaplike probleme, dissiplinêre uitdagings by skole. Dit alles plaas ons onderwysers en leiers onder buitengewone druk. Hulle moet as’t ware nou verskeie rolle by die skool vul, waaronder dié van die ouer wat nie altyd daar is vir hul kinders nie.”
Touwsrivier het drie skole, waarvan een ’n hoërskool is en twee laerskole. “Ten spyte van die uitdagings is daar tog kinders wat baie goed presteer en groot hoogtes bereik. Ons het pas 11 kinders na die nasionale landloopkompetisie gestuur en dit was wonderlik om te sien hoe ’n hele gemeenskap saamgestaan het om planne te maak om fondse te in vir dié kinders sodat hulle kan deelneem. Ná die motiveringspraatjie kyk ons onderwysers en leiers nou weer met nuwe oë na uitdagings en probleme. Hulle het sommer nuwe energie om hul daaglikse take en probleme aan te pak,” sê Clemence.
Om betrokke te raak by die ATKV-tak Téhilah, kontak Clemence Thomas by 076 757 9735 of stuur ’n e-pos na ctsigns@tbnpartner.co.za. Besoek https://atkv.org.za/ons-storie/takke/ om jou naaste ATKV-tak of ATKV-jeugtak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.