TG-illustreerder wen Sikuvile-toekenning

Elke jaar word die beste van die beste joernaliste, fotograwe en illustreerders in die media by die Standard Bank Sikuvile-toekennings vereer vir hul bydrae tot die joernalistiek, en vanjaar het die ATKV se interne tydskrif, Taalgenoot, ook ’n pluimpie ontvang.
Die illustreerder en grafiese ontwerper, Rikus Ferreira, het vanjaar groot publikasies soos Beeld, City Press, Netwerk24 en die Sunday Times in die kategorie: visuele joernalistiek uitgestof toe hy met die toekenning weggestap het.
Taalgenoot se fotograaf, André Badenhorst, was ook vanjaar in twee kategorieë ’n finalis vir sy Taalgenoot-foto’s (André het ook in albei kategorieë – glansfotografie en sportfotografie – die kortlys met twee afsonderlike inskrywings gehaal). Toast Coetzer, ook ’n gereelde Taalgenoot-bydraer, was ’n finalis in die kategorie vir leefstylartikels vir sy artikel oor die Richtersveld, wat in verlede jaar se lente-uitgawe van Taalgenoot verskyn het.
“Ek voel baie geëerd om as die wenner aangewys te word. Ek is trots dat ek in die joernalistiek my merk kon maak nadat ek vir jare meestal net in die advertensiewese gewerk en presteer het,” sê Rikus.
Rikus woon en werk in Engeland, maar doen steeds gereeld vryskutwerk vir Suid-Afrikaanse publikasies.
“Dit is fantasties dat illustrasie erken word, omdat dit ’n belangrike deel van ’n storie uitmaak. Daar is iets bevredigend daaraan om die teks van ’n storie visueel te kan uitbeeld.”
Volgens Rikus poog hy om met sy illustrasiewerk ’n storie interessant en visueel aan te vul.
“Illustrasies loop altyd hand aan hand met teks en inhoud. Dit verbreed die leser se leesondervinding met nuwe insigte, sonder om letterlik met die inhoud om te gaan.
“Ek fokus hoofsaaklik op hierdie aanvulling en uitbouing van die teks. As ek slaag, voel dit vir my of daar magiese kragte aan die werk is tussen woord en beeld.”
Rikus is vanjaar vir drie afsonderlike illustrasies in Taalgenoot beoordeel.
Taalgenoot se redakteur, Johan Jack Smith, het sowat agt jaar terug vir Rikus gekontak om illustrasiewerk vir die tydskrif te begin doen.
“Ek was mal oor Johan se visie, sy energie en die ruimte wat hy vir my gegee het om die stories te interpreteer.
“Oor die jare het ons ’n fantastiese werksverhouding opgebou, waar ek vrye teuels gegun word om die storie te interpreteer op my eie manier. Ek staan ook in verwondering oor wat hy as redakteur in die tyd wat hy daar is, bereik en vermag het. Dis ’n great tydskrif.”
Rikus het ’n R15 000-kontantprys sowel as ’n trofee ontvang.