TG-RUK EN RYM: 5 vrae aan die naaswenner, Hendriekx
Op sy tuisdorp het hy soos ’n buitestander gevoel, maar met Taalgenoot-RUK EN RYM het Drianco Fourie, beter bekend as Hendriekx, ’n tuiste gevind – en besef dat Afrikaans alles behalwe konserwatief is.
Hoe sal jy jou musiek beskryf?
Ek het nog nooit baie inspirasie uit Afrikaanse musiek geput nie. Ek het Afrikaans altyd as ’n konserwatiewe taal ervaar. Ek het tog na bands soos Bittereinder en Zinkplaat geluister, maar het baie meer inspirasie gekry by Engelse alternatiewe groepe.
Hoe sal jy jouself as ’n kunstenaar beskryf?
As ’n kunstenaar is ek iemand wat altyd op soek is na iets nuut en vars. Ek hou van die absurde en die weird. Daar is vir my ’n uniekheid in dit. Dit sê baie van jouself en jou musiek as jy teen die grein gaan.
Hoekom het jy besluit om vir Taalgenoot-RUK EN RYM in te skryf?
Ek maak al vir ’n wyle musiek, maar ek het nie noodwendig gedink daar is mense daar buite wat my musiek wil luister nie. My vriende het my omgepraat om vir Taalgenoot-RUK EN RYM in te skryf. Ek was in die eerste plek baie verbaas dat ek dit so ver in die kompetisie gemaak het. Nooit in my wildste drome het ek gedink mense sal aanklank by my musiek vind nie. Dit was ook die eerste keer dat ek voor ’n gehoor opgetree het.
Wat was jou ervaring van die kompetisie?
Ek het slegs goeie goed ervaar. Ek het liefde ervaar. ’n Gemeenskaplike liefde vir musiek. Ek was geïnspireer en ek het ’n plek gevind waar ek welkom voel. Aanvanklik het ek gedink dit gaan baie kompeterend en styf wees. Ek het die teenoorgestelde ervaar. Ek het ’n gemeenskap gevind. Ek het hoop gevind.
Watter impak het Taalgenoot-RUK EN RYM op jou as kunstenaar gehad?
RUK EN RYM het ’n vuur binne my aangesteek. Ek kom van ’n klein, konserwatiewe dorpie waar ek nooit ingepas het nie. Ek het altyd soos die buitestander gevoel. Ek het nooit gevoel dat Afrikaans my aanvaar nie en in ruil het ek ook nie Afrikaans aanvaar nie. Met RUK EN RYM het ek besef dat Afrikaans alles behalwe konserwatief is. Afrikaans kan eksentriek en uniek wees. RUK EN RYM het my aan ander alternatiewe Afrikaanssprekendes blootgestel.