TG-RUK EN RYM: 7 vrae aan die wenner, SAMPAULE
Die jong kletsrymer van die Kaap sou nooit in sy wildste drome kon dink dat hy sou wegstap as die eerste wenner van Taalgenoot-RUK EN RYM nie, maar nou wag daar groot geleenthede vir Paul-Samuel Rheeder, beter bekend as SAMPAULE. Uit die hele ervaring, sê Sam, is dit is die gemeenskap en tuiste wat hy as andersdenkende gevind het wat hom altyd sal bybly.
Ons vind uit oor sy ervaring van hierdie kompetisie vir alternatiewe kunstenaars wat musiek in Afrikaans maak en hoor hoe dit voel om as die wenner van die eerste Taalgenoot-RUK EN RYM gekroon te word.
Hoe sal jy jou musiek beskryf?
Ek beskou my musiek in verskeie fases. Ek wil graag ’n paar viersnit-albums uitbring. Elkeen moet uniek wees, maar tog een verhaal vertel. Ek dink ek val onder die sambreel van kletsrym en hip-hop, alhoewel ek graag wil hê dit moet tot ’n mate ook poëties van aard wees. Ek probeer musiek te maak wat die 16-jarige ek destyds nodig gehad het. My lirieke is donker en eerlik en ek put baie inspirasie uit alternatiewe popkunstenaars soos 21 Pilots en Lorde.
Hoe sal jy jouself as ’n kunstenaar beskryf?
Hierdie een is vir my moeilik om te beantwoord. Ek dink nie daar is ’n verskil tussen wie ek as mens en wie ek as ’n kunstenaar is nie. Ek probeer tog om ’n bietjie anders as ’n kunstenaar te wees. Esteties kyk ek veral op na kunstenaars soos Billie Eilish.
Hoekom het jy besluit om vir Taalgenoot-RUK EN RYM in te skryf?
Ek het op Instagram bewus geraak van die kompetisie. Wat my wel aangespoor het, was die kans om ander kunstenaars te ontmoet – kunstenaars wat meer soos ek is. Ek het nog altyd gesukkel om in die Afrikaanse musiek-scene in te pas en kunstenaars te vind met wie ek kan vereenselwig. Ek wou ’n gemeenskap vind waar ek tuis voel en ek het dit beslis met RUK EN RYM gevind.
Wat was jou ervaring van die kompetisie?
Dit was amazing. Ek het verwag dat almal net op hulself gaan fokus. Ek het gedink die hele ervaring gaan baie intimiderend wees. Dit was heeltemal die teenoorgestelde. Die beoordelaars en al die deelnemers was super nice gewees. Tydens die kompetisie het die meeste van ons nommers uitgeruil. Dit het gevoel of ek iewers inpas. Ek het vriende gemaak en mense ontmoet saam met wie ek nog in die toekoms musiek gaan maak.
Watter impak het Taalgenoot-RUK EN RYM op jou as kunstenaar gehad?
Dit het ’n vuur onder my bas aangesteek. Jy wil hê mense moet jou musiek luister, maar jy het nie altyd die motivering nie. RUK EN RYM het daai oemf vir my gegee om nog harder te werk aan my musiek. Dit het vir my gewys dat daar tog ’n plek in die musiekbedryf vir my is.
Sal jy ander kunstenaars aanraai om volgende jaar deel te neem, en hoekom?
Ek sal 100% kunstenaars aanraai om aan RUK EN RYM deel te neem. Jy gaan ’n platform vind. Jy gaan amazing mense ontmoet. Jy gaan baie leer en dit gaan baie vir jou identiteit as mens en as kunstenaar beteken.
Wat is jou toekomsplanne?
Vir nou sien ek uit om twee liedjies saam met Peach van Pletzen by Planet Awesome op te neem. Ek wil ook begin werk aan my musiekvideo wat ek saam met André Badenhorst gaan doen. Ek beoog ook om in 2024 voltyds musiek te maak en te werk aan my loopbaan as akteur.