TG-RUK EN RYM: De Pozi wil die musieklandskap oorneem
Die manne van die groep De Pozi het by vanjaar se Taalgenoot-RUK EN RYM-finaal gewys hoe uniek Afrikaans kan wees as jy die taal vanuit ’n anderster hoek benader. Dié tweemanskap van die Oos-Rand het die beoordelaars en die gehoor met hul trap-klanke geboei en hulle het uiteindelik met die gedeelde derde plek weggestap.
Ons het die voorbok, Dyllan de Beer, gepols oor hul ervaring en hul toekomsplanne.
Hoe sal jy julle musiek beskryf?
Ons probeer vir luisteraars iets heeltemal nuut bied. Ons meng trap-musiek met diep Afrikaanse gedigte. Ons probeer iets te skep wat Afrikaanse mense nog nie vantevore gehoor het nie.
Hoe sal jy julle as kunstenaars beskryf?
Ons stem saam met die visie wat Johan Jack Smith vir Taalgenoot-RUK EN RYM gehad het. Ons probeer ’n lig skyn op die alternatiewe kant van Afrikaans. Ons bied iets uniek en aweregs. Ons swem teen die stroom.
Hoekom het julle besluit om vir Taalgenoot-RUK EN RYM in te skryf?
Ons wou juis die platform gebruik om blootstelling te kry en moontlik ander kunstenaars en mense te ontmoet wat dieselfde as ons dink – kunstenaars met wie ons idees kan uitruil. Dit is juis wat ons gevind het.
Wat was julle ervaring van die kompetisie?
Dit was een van die coolste en stresvolste ervarings van ons lewens. Ons sal nie huiwer om dit weer te doen nie. Ons het baie ander kunstenaars ontmoet en regtig baie by hulle geleer. Dit was ook die eerste keer dat ons op ’n verhoog opgetree het. Ons het baie idees met die ander finaliste uitgeruil en ons het reeds ’n liedjie saam met RICHII opgeneem.
Watter impak het Taalgenoot-RUK EN RYM op julle as kunstenaars gehad?
Dit het ons gehelp om ons persona op die verhoog te vind. RUK EN RYM het ons gehelp om ons vrese te oorkom en ons laat besef dat daar ’n toekoms vir ons as kunstenaars is.
Wat is julle toekomsplanne?
Ons wil die Afrikaanse musieklandskap oorneem. Ons het met RUK EN RYM onsself as kunstenaars leer ken. Dit het aan ons ’n platform gegee waar ons besef het waartoe ons staat is. Ons mik om musiek voltyds te doen.