Tien stories haal weer asem: Tienertoneel-finaliste bekend
Van honderde stories op streekverhoë regoor Suid-Afrika tot net tien produksies wat nou in een van die land se mees ikoniese teaters te siene gaan wees.
Die ATKV het die tien nasionale finaliste van die 62ste ATKV-Tienertoneel aangekondig. Dié tien produksies sal van 29 September tot 1 Oktober 2026 tydens die ATKV-Toneelaanbod se nasionale ASEM-finaal by die Kunstekaap in Kaapstad op die planke wees.
Vir weke lank het jong teatermakers in Durban, Gauteng, Bloemfontein, Gqeberha en die Wes-Kaap die land se verhoë met uiteenlopende stories, style en perspektiewe gevul. Hulle het gewaag, gevra, gelag, ontstel, verras en soms letterlik gehore se asem weggeslaan.
Nou kry tien van dié stories nóg ’n asem.
Die tien nasionale finaliste, in alfabetiese volgorde, is:
Asemrowers (Hoërskool Durbanville)
Wat gebeur wanneer ’n generasie vergeet om asem te haal?
’n Vraag wat binne ’n seisoen met die titel ASEM besonder hard resoneer en nou op die nasionale verhoog verder gevra word.
Dapperhuis (Hoërskool Parel Vallei)
Elke huis het sy muis.
Kort, kripties en met genoeg geheimsinnigheid om die Kunstekaap-gehoor self te laat ontdek wat agter Dapperhuis se deure wag.
Die hoop (Hoërskool Parel Vallei)
Los jou dinge hier,
Ek kyk daarna.
’n Paar woorde wat ’n hele wêreld ooplaat, en ’n produksie wat nou sy volgende hoofstuk op die nasionale verhoog skryf.
Die kandidaat (Hoërskool Stellenbosch)
’n Ontploffing, ’n huislose jong ma en baba, drie politici en ’n burgemeestersverkiesing waarin mag, skandaal, verraad en vuil geheime mekaar vind. Hierdie absurde komedie kyk met ’n skerp oog na korrupsie, leuens, en wat gebeur wanneer ’n volk te lank wegkyk.
Hildemar (Hoërskool Noordheuwel)
Bewaar ons van die woud, bewaar ons van die waarheid, bewaar ons van onsself.
’n Onheilspellende uitnodiging na ’n wêreld waar die waarheid dalk juis die ding is waarvoor ’n mens die bangste moet wees.
My hart (Hoërskool Despatch)
’n Vars, verbeeldingryke verhaal oor liefde, grootword en die risiko’s van die hart. Wanneer ouers die legende vertel van ’n meisie wat sonder ’n hart gebore is, ontvou ’n reis vol humor, warmte, verwondering en die besef dat elke wens ’n prys het.
’n Petisie aan Dionysus (Hoërskool Zwartkop)
’n Visuele bewegingsteaterproduksie wat in die psige van die kunstenaar delf en die menslike behoefte om te skep, ondersoek. Met ’n episodiese, abstrakte wêreld word kreatiwiteit nie bloot ’n begeerte nie, maar ’n noodsaaklikheid.
Op die rug van reuse (Hoërskool Noordheuwel)
Wanneer jy klein is, is jou pa se rug ’n veilige plek. Maar wat gebeur wanneer jy te groot word om gedra te word? ’n Treffende beeld van grootword, loslaat en die mense wie se “vlerke” ons deur die lewe dra.
(S)ink (C&N Sekondêre Meisieskool Oranje)
’n Eksperimentele, ekspressionistiese drama wat ondersoek wat dit beteken om anders te dink, anders te leer en anders te beleef. Deur simboliek, humor en hartseer vra die produksie indringende vrae oor behoort, begrip en selfaanvaarding.
Skaduvlieg Motel (Hoërskool Garsfontein)
By die Skaduvlieg Motel wag die Suisers – en ’n uitnodiging na ’n wêreld waar niemand hoef te “koes, te koer, of te keer” nie.
Kom een, kom almal … jou paradys begin hier.
Van streekverhoog tot Kunstekaap
Om as een van die tien nasionale finaliste gekies te word, is reeds ’n besondere prestasie.
ATKV-Tienertoneel gaan uiteindelik oor veel meer as die uitslag aan die einde van ’n fees. Dit is ’n ontwikkelingsruimte waar jong akteurs, regisseurs, skrywers en tegniese kunstenaars die geleentheid kry om werk te skep, risiko’s te neem en tydens intieme mentorsessies saam met professionele teatermakers oor hul werk te besin.
Die tien finaliste neem nou alles wat hulle gedurende dié reis ontdek het saam Kaapstad toe.
Daar wag nóg ’n verhoog. Nóg ’n gehoor. En nóg ’n kans om asem te haal.
R60 000 – en ’n volgende verhoog vir die wenproduksie
Tydens die nasionale finaal is R60 000 se totale prysgeld vir die top-3-produksies op die spel.
Vir die wenproduksie wag daar iets wat veel langer as die oomblik van ’n prysuitdeling kan leef. Benewens R30 000 en die gesogte ATKV-Tienertoneel-wisseltrofee, ontvang die produksie ook ’n speelvak by die Toyota Stellenbosch Woordfees.
Die naaswenner ontvang R20 000, terwyl die produksie in die derde plek R10 000 ontvang.
Die speelvak beteken dat ’n storie wat op ’n skoolverhoog begin het, deur ’n streeksfees gegroei en by die Kunstekaap as die nasionale wenproduksie gekroon is, die kans kry om nóg ’n gehoor te ontmoet.
Die beste stories eindig nie wanneer die gordyn sak nie. Hulle kry weer asem.
Die Kunstekaap wag
Die tien ATKV-Tienertoneelfinaliste tree van 29 September tot 1 Oktober 2026 tydens die ATKV-Toneelaanbod se nasionale ASEM-finaal by die Kunstekaap in Kaapstad op.
Kaartjies is vanaf 9 September via Webtickets en by die Kunstekaap-kaartjiekantoor beskikbaar.
Kom haal saam asem.