Tippie en die ATKV maak saam ’n verskil
Tippie leer al sedert 2014 Suid-Afrikaanse kinders om te lees, en binnekort gaan meer kinders die kans kry om op ’n Tippie-leesavontuur geneem te word. Die ATKV het in samewerking met Penguin Random House en Tippie se skrywers en ontwikkelaars, Reinette Lombard en haar ma, José Palmer, les- en leermateriaal aan ses Wellingtonse skole oorhandig.
Die boeke is op 19 Maart 2026 deur die skole Groenberg Primêr, Bergrivier Primêr, Wagenmakersvallei Primêr, Rondeheuwel Primêr, Soetendal Primêr en Pauw Gedenk by die Breytenbach-sentrum in Wellington ontvang.
Almero Oosthuizen, ATKV-streeksbestuurder, is baie trots op die ATKV se EkKanLees-projek en die verskil wat dit in gemeenskappe maak.
“Die ATKV se kliëntgedrewe fokus vereis van ons om bewus te bly van gemeenskappe se behoeftes en die rol wat ons in die aanspreek van daardie behoeftes kan speel. Ons het juis tydens ’n werksessie besluit dat al die takke in ons streke by die leeskrisis in ons land betrokke moes raak.”
Almero vertel dat die leeskrisis sommer vroeg in leerders se skoolloopbaan kop uitsteek en dis daarom dat die EkKanLees-projek op grondslagfaseleerders fokus.
“Onderwysers het dikwels oorvol klasse en het eenvoudig nie genoeg tyd om ekstra aandag te gee aan leerders wat met lees sukkel nie. Baie skole het ook nie geskikte leesmateriaal nie en dis daarom dat ons graag sulke skole met leesmateriaal wil toerus en bemagtig. Ons het ook leesfasiliteerders wat ondersteuning aan onderwysers en leerders gee waar daar leesagterstande ervaar word.”
Wat wonderlik is, is dat daar in die proses ook heelwat onderwysers is wat as leesfasiliteerders toegerus en opgelei word.
Almero vertel dat dit vir die ATKV ontsettend belangrik bly om ’n aktiewe rol te speel ten opsigte van leesgeletterdheid, en hulle wil graag meer strategiese vennote op ’n nasionale vlak by leesontwikkeling betrokke kry.
Reinette Lombard, medeskrywer van die Tippie-leesreeks, vertel dat die saadjie reeds in 2010 daarvoor geplant is.
“Ek het in daardie tyd ’n remediërende praktyk gehad en baie graadeentjies is na my verwys omdat hulle met lees gesukkel het. Hoe meer kinders ek gesien het, hoe meer vrae het daar by my ontstaan. Ek het toe besef dat die probleem nie by die kinders gelê het nie, maar eerder by die leesmateriaal.
“Dit was heeltemal ontoepaslik vir hul vlak. Die boeke het lang woorde bevat, en daar was karakters en kultuurpraktyke in die boeke waarmee ons Suid-Afrikaanse kinders nie kon identifiseer nie.”
Reinette se ma, José Palmer, was jare lank in buitengewone onderwys en sy het ook ’n droom gehad om kinderboeke te skryf, maar het net nie daarby uitgekom nie.
“My pa was in ’n padfietsongeluk en hy is ná ’n lang tyd in die hospitaal oorlede. My ma het toe iets nodig gehad om vir haar as terapie te dien en só het ons hande gevat en aan Tippie begin werk. My ma wou kinderboeke skryf en ek het ’n behoefte aan ouderdomstoepaslike materiaal gehad. Tippie is gebore en die eerste agt Afrikaanse Tippie-boeke is in 2014 vir die eerste keer gepubliseer.”
Tippie het ’n lewe van sy eie gekry en het in ’n groot suksesverhaal ontpop.
Reinette vertel opgewonde dat dit so gegroei en ontwikkel het dat daar vandag al boeke is vir kinders van baba- en kleuterouderdomme tot ouer kinders in die intermediêre fase. Daar is ook nou Engelse boeke beskikbaar.
“Die boeke leer ook nie net kinders lees nie, maar selfs grootmense! Die skrywer Christien Neser het dit al vir ’n groepie volwasse vroue in Soweto gegee, wat graag in Afrikaans wou leer lees. Selfs volwasse vroue het dit geniet om Tippie te leer ken!”
Reinette is baie bly dat hul boekereeks so goed met die ATKV se EkKanLees-projek kan inskakel.
“Die ATKV glo ook dat die boustene vir geletterdheid vroeg al vasgelê moet word, en dit is presies wat Tippie doen. Die boeke lê die grondslag vir taal en geletterdheid.”
Sy vertel dat sy reeds in 2022 vir Almero ontmoet het en hulle het daar besef dat hulle dieselfde wens deel om meer kinders met leesvaardighede te bemagtig. Hul jongste samewerking in Wellington is net nog ’n kersie op die koek van ’n lang werksverhouding.
Dit is beslis nie die laaste projek nie, want die probleem is enorm in Suid-Afrika, vertel sy.
“Die werklikheid is dat een uit elke drie graad 3-leerders nie met begrip kan lees nie. Dit is daarom ons droom dat daar ’n dag sal wees wat alle kinders teen die einde van hul graad 3-jaar met begrip kan lees. Ons hoop om meer mense betrokke te kry om so ’n groter verskil in gemeenskappe te maak. Dit sal wonderlik wees om ons materiaal in al die skole in die land beskikbaar te maak.”
Alhoewel daar op hierdie stadium al leesfasiliteerders op verskeie dorpe regoor die land is, bied die ATKV-EkKanLees-projek meer as net ondersteuning vir onderwysers en die opleiding van leesfasiliteerders. Dit sluit ook tak- en streeksprojekte in, wat bydraes tot leesondersteuning en -bemagtiging lewer, en sluit hulp aan skoolbiblioteke, boekinsamelings, leeswerkswinkels, en leesmarathons in.
Klik gerus hier om meer uit te vind oor die Tippie-leesreeks.