Tippie neem die Moederstad op horings!
Daar was groot opgewondenheid voor die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad toe ’n baie spesiale besoeker skielik tussen die kinders opdaag. Tippie die olifant, in sy kenmerkende rooi hempie, het besluit dis tyd vir ’n vakansie-uitstappie en het sommer die Moederstad behoorlik gaan verken.
Volgens Reinette Lombard, medeskrywer van die Tippie-reeks, was dié uitstappie deel van ’n prettige plan om kinders tydens die skoolvakansie uit die huis én nader aan boeke te kry.
“Ons wou hê Tippie moes self die stad gaan ontdek. Hy is trots Suid-Afrikaans en wou sommer saam met sy maatjies op avontuur gaan,” vertel sy.
Saam met Penguin Random House en LAPA Uitgewers het Tippie eers die Twee Oseane-akwarium besoek voordat hy op die ikoniese rooi City Sightseeing-bus gespring het.
“Dit is vakansie en ons wou iets besonders vir kinders doen,” sê Corné Grobbelaar, onderwysprojekbestuurder by Penguin Random House.
“City Sightseeing het sommer dadelik familiekaartjies geborg, terwyl die akwarium ook kaartjies beskikbaar gestel het. Tippie en sy span het boonop leesboekies uitgedeel wat by elke kind se leesvlak pas.”
Van die akwarium af het Tippie deur die historiese strate van Kaapstad gery. Op dié oopdakbus was daar geen tekort aan lag, waai en drukkies gee nie. By die Tafelberg-sweefspoor het Tippie nuwe aanhangers ontmoet, foto’s geneem en nog boekies en Tippie-maskers uitgedeel.
Een gelukkige jong aanhanger het selfs ’n gesinskaartjie na Tafelberg en R800 se prysgeld ontvang om nóg ’n City Sightseeing-avontuur te beleef. Daarna het Tippie weer op die rooi bus geklim, verby die pragtige strand van Kampsbaai gery en sy dag by die V&A Waterfront afgesluit, waar nog foto’s geneem en nuwe herinneringe gemaak is. Maar agter al die pret lê ’n ernstige doel.
Reinette vertel dat die idee vir die Tippie-leesreeks ontstaan het uit haar werk as remediërende terapeut.
“Ek het al hoe meer kinders geassesseer wat gesukkel het om te lees. Baie van hulle was slim kinders, maar hulle kon nie aanklank vind by die boeke wat beskikbaar was nie. Toe besef ek ons moet stories skep wat kinders wíl lees.”
Sy het haar ma, José Palmer, wat jare lank in die onderwys was en altyd gedroom het om kinderboeke te skryf, gevra om die stories te begin skryf.
“Dit was ook ’n moeilike tyd vir ons familie nadat my pa tragies oorlede is toe ’n taxi hom van sy fiets afgery het. Tippie het uit daardie donker tyd gegroei tot iets wat vandag vir duisende kinders vreugde bring.”
Die eerste Tippie-boeke is in 2014 gepubliseer. Sedertdien het die reeks na Afrikaans, Engels, Xhosa en Zoeloe uitgebrei. Vandag sluit die Tippie-wêreld meer as 1 400 leesboekies oor sewe leesvlakke in, asook wiskundereekse, boeke vir babas en kleuters, onderwysgidse, flitskaarte, muurkaarte en aktiwiteitsmateriaal.
Die Tippie Leer Lees-reeks is deur die departement van basiese onderwys goedgekeur en word vir graad 1- tot 3-leerders voorgeskryf. Die volledige ondersteuningsmateriaal help onderwysers om leesvaardighede in die klaskamer te ontwikkel.
“Vir kinders is Tippie wie hulle nodig het hy moet wees,” sê Lombard. “Hy is ’n maatjie wat saam met hulle leer, ontdek en selfvertroue bou.”
Sy sê sy is dankbaar teenoor LAPA Uitgewers wat die Tippie-leesreeks destyds help bekendstel het, asook die ATKV, wat die afgelope paar jaar saam met Tippie werk om geletterdheid verder deur hul EkKanLees-projek uit te bou.
Volgens Lisa Nel, bemarkingsbestuurder van City Sightseeing, was dié samewerking ’n natuurlike pasmaat.
“Dis skoolvakansie, kinders ry tans teen ’n spesiale tarief van R65 op die rooi bus, en ons het selfs ’n spesiale kinderkanaal aan boord. Tippie het die perfekte ekstra bietjie avontuur bygevoeg. Dit was ’n wonderlike sinergie.”
En as ’n mens vir Tippie self sou vra? Hy is ’n olifant van min woorde, maar sy gunstelingdeel was al die glimlagte en drukkies van nuwe maatjies wat saam met hom ontdek het dat lees net nóg ’n avontuur is wat wag.
Klik gerus hier om meer uit te vind oor die Tippie-leesreeks.