Tjokkerfinaliste slaggereed vir die verhoog!
Die vierde ATKV-Tjokkertoneel het vanjaar simbioties tussen die sterre gespeel, met meer as 900 tjokkers wat hul stories tydens drie propvol streeksfeeste landswyd vertel het. Die deelnemers aan 50 produksies van regoor Suid-Afrika het nie op die planke teruggehou nie en die mentorbeoordelaars was uit die veld geslaan oor die groei in gehalte en die kreatiwiteit waarmee vandag se tjokkers mini-tonele aanpak.
ATKV-Tjokkertoneel word gementor deur passievolle kundiges wat hul stempel in die industrie afgedruk het. Vanjaar se mentorbeoordelaars was Marijda Kamper, Chris Vorster, Solomon Cupido, Lindsey Cele en Jacques Bessenger.
Die doel van ATKV-Tjokkertoneel is die skep van ’n nasionale platform vir talentontwikkeling ter viering en opbou van laerskoolleerders deur toneelontwikkeling, gehoorontwikkeling en blootstelling aan goeie literatuur aan te moedig. Met ATKV-Tjokkertoneel stel ons jong leerders bloot aan teaterkuns en drama deur middel van mini-tonele.
JJ van Niekerk, ATKV-Tjokkertoneel-projekorganiseerder, is daarvan oortuig dat die toekoms van die tjokkers blink en dat die passie waarmee hulle hierdie projek aanpak, ’n goeie dosis kreatiwiteit en ’n wending in die ATKV-Tienertoneelprojek teweeg gaan bring.
“Die ATKV se toneelaanbod word nóg sterker deur die talent wat nou reeds op tjokkervlak ontgin word. Die ATKV het nog altyd ten doel om deur opleiding en ontwikkeling die kunste in ons land sterk en gesond te hou. Die deurdagte prosesse wat deur die ATKV en sy mentors geïmplementeer word, sorg vir simbiotiese gehoorontwikkeling, talentontginning en die volhoubare daarstelling van ’n groeiende industrie in die kunste, wat die redding is vir sosiale en kulturele ontwikkeling in Suid-Afrika.”
Die top-6-tjokkerproduksies word genooi na die nasionale Simbiose-finaal, wat tussen 23 en 28 September by die Kunstekaap in Kaapstad plaasvind.
Hierdie finaal gaan vanjaar simbioties die wesenlike tjokkergeesdrif daaroor gestand doen en R10 000 is op die spel vir die wenproduksie van ATKV-Tjokkertoneel 2024.
Die top-6-tjokkerproduksies wat na die nasionale finaal deurdring en op 27 September hul staal gaan wys, is:
- Dit kannie! deur die Laerskool Louw Geldenhuys in Randburg
- Die Storietafel deur die Curro Durbanville Laerskool in Durbanville
- Skelmdans deur die Beaumont Primary School in Somerset-Wes
- Dertien deur die Laerskool De Hoop in Somerset-Wes
- Fladder deur die Laerskool Roodekrans in Krugersdorp
- Sokkieverse deur die Laerskool Durbanville in Durbanville
Kaartjies vir die ATKV-Tjokkertoneelfinaal is vanaf Woensdag 4 September by Webtickets beskikbaar.
Hou die ATKV se webwerf en sosialemediablaaie dop vir meer inligting oor die ATKV-Tjokkertoneel se finaal en moenie hierdie spoggeleentheid misloop nie!