Tjokkers weer terug op die verhoog in 2022!
Hoewel ATKV-Tjokkertoneel eers weer in 2022 terug op die verhoog sal wees, beteken dit nie dat die Tjokkers gaan stilsit in 2021 nie.
Met ATKV-Tjokkertoneel word laerskole aangemoedig om die kinders bloot te stel aan teaterkuns en drama deur middel van mini-tonele en junior spreekkore.
“Weens die Covid-19-pandemie sal hierdie projek nog ’n jaar moet wag om seker te maak dat deelnemers die beste geleentheid kry om hul talente ten toon te stel,” se JJ van Niekerk, projekorganiseerder van ATKV-Tjokkertoneel.
“Ons het ’n meningsopname gedoen onder voornemende deelnemers en besluit om eerder in 2021 op voorbereiding te fokus.”
Junior spreekkore (graad 1 tot graad 3) en deelnemers aan mini-tonele (graad 4 tot graad 7) kan dus nou reeds aan die werk spring en voorberei vir ’n opwindende 2022-seisoen.
ATKV-Tjokkertoneel gaan vanjaar woeker om belangstellende skole te rat vir 2022 deur opwindende GRATIS aanlyn opleidingsgeleenthede, ’n Tjokkerteksbiblioteek en die skep van ’n netwerk van skrywers vir dié woelige projek wat nog in sy babaskoene staan.
Opleidingsgeleenthede gaan in die vorm van webinare plaasvind en gaan deelnemers touwys maak oor die volgende voorbereidingselemente:
- Hoe kies ek ’n spreekkoor of mini-toneelteks?
- Wat maak ’n goeie mini-toneel?
- Hoe skep ek maksimale speelgeleentheid vir my Tjokkers?
- Praktiese stelontwerp en tegniese inkledingswenke vir mini-tonele. Hoe lyk ’n sterk regiehand?
- Wat laat ’n junior spreekkoor uitstaan?
Die webinare sal deur kundiges in die bedryf aangebied word met ’n vraag-en-antwoordsessie aan die einde van elke webinaar. Die kundiges wat vanjaar se sessies gaan aanbied is Ilne Fourie (aktrise, dramaturg en teatermaker), Schoemé Grobler (direkteur van Puppetrix, poppespelmeester, skrywer en opvoeder) en Adri Vivier (vryskutaktrise, skrywer, beoordelaar, teatermaker en opvoeder).
Die ATKV gaan ook ’n netwerk vestig van skrywers vir nuwe Tjokkertoneeltekste deur te konsulteer met verskeie talentvolle skrywers in die industrie. Skole kan dus vroegtydig met hul gekose skrywers gesels om die perfekte teks vir hul leerders te ontwikkel.
Die Tjokkerteksbiblioteek gaan ook ons deelnemers help om hul inskrywing vir 2022 te verfyn. Hierdie tekste sal in sinopsisformaat op die ATKV se webwerf verskyn en opvoerregte, asook teksnavrae sal direk aan die dramaturg gerig kan word.
Registreer HIER vir ATKV-Tjokkertoneelnuus om ingelig te bly oor opkomende webinare, die Tjokkerteksbiblioteek, skrywersnetwerk en meer.
“Met ATKV-Tjokkertoneel ontwikkel kinders selfvertroue, kommunikasie- en luistervaardighede, en word hulle woordeskat verbreed. Ek dink dié is ’n ideale geleentheid om ’n bietjie deur toneel in leerders se groei te belê.”
Moet daarom nie terugsit en wag vir 2022 nie, wees ingelig en kry daai Tjokkers aan die gang vir ’n groot belewenis wat in die coulisse wag.
Laai 2022 se brosjure HIER af.