Toneelmeesterklasse: Kom leer hier hóé

As jy jou tande vir TV- en verhoogwerk slyp, is daar geen beter manier om by iemand te leer wat sy slag al in rolprente, op die verhoog en in TV-reekse gewys het nie.
Vanjaar gee ATKV-Tienertoneel jou die geleentheid om by niemand anders nie as Edwin van der Walt kers op te steek. Edwin het bekendheid verwerf vir sy spel in Ballade vir ’n Enkeling, Hollywood In My Huis, Die Pro, Wonderlus, Sara se Geheim, Fynskrif, Koningin Lear, Asem en A Cock and Bullshit Story.
Volgens JJ van Niekerk, projekorganiseerder van ATKV-Tienertoneel en -DigiToneel, gaan vanjaar se opleidingsreeks toneelliefhebbers en -leergieriges nie net inspireer nie, maar ook met vaardighede toerus wat hulle lewenslank tot hul voordeel sal kan gebruik.
“Die ATKV is baie opgewonde om saam met Edwin te werk. Hy is ’n hardwerkende entrepreneur wat nuwe werk skep en nou wil hy terugploeg deur die jeug en nuwe teatermakers te inspireer om hul kuns te vervolmaak. Hy het reeds ongelooflike dinge met Novieguide vermag,” sê JJ.
Edwin van der Walt het ná skool vir ’n jaar film studeer en toe sy graad in drama aan die Universiteit Stellenbosch voltooi. Hy is reeds in sy tweede jaar deur Marthinus Basson vir rolle in professionele produksies gekies.
“In 2020 het ons opleidingsegment ’n digitale baadjie aangetrek deur die ontwikkeling van ’n reeks webinare deur kundiges in die industrie wat op ses diverse toneelsegmente gefokus het. Die inhoud was vars en die aanbieding interaktief en toeganklik tot baie. Vanjaar wil die ATKV, met Edwin se hulp, voortbou op ’n nalatenskap vir die Afrikaanse toneelindustrie deur die ontwikkeling van die tweede reeks in ons toneelopleidingsbiblioteek.”
Die opleidingsreeks van Mei tot Julie 2021 bestaan uit 6 meesterklasse wat fokus op geloofwaardige spel. Ter ondersteuning van elke meesterklas kan belangstellendes ook ’n webinaar met Edwin bywoon.
“’n Meesterklas (webinaar ingesluit) kos net R150. Die formaat van die meesterklas en hoe Edwin dit verpak het, is werklik indrukwekkend en ek wil enigeen wat belangstel in toneelspel aanmoedig om dit by te woon.”
Die volledige reeks is beskikbaar teen R650.
Die formaat van elke meesterklas bestaan uit die volgende:
- ’n Videotutoriaal met akteurs en gevallestudies ter ondersteuning van die lesinhoud.
- Kort opsomming van lesinhoud.
- Toegang tot ’n interaktiewe webinaar met Edwin oor die les-inhoud.
- ATKV-Opleidingsertifikaat as bewys van bywoning van die meesterklas.
Die onderwerpe wat tydens onderskeie meesterklasse fokus gaan geniet, is:
- Meesterklas 1: Hoe om jou woorde vinniger en meer effektief te leer en hoe om navorsing en inspirasie rondom jou te gebruik vir karakterisering.
Webinaar oor Meesterklas 1: 29 Mei - Meesterklas 2: Die belangrikste vaardigheid vir enige akteur: Luister- en reageertegnieke.
Webinaar oor Meesterklas 2: 5 Junie - Meesterklas 3: Karakterontleding vanaf teks, teksanalise en spelkeuses.
Webinaar oor Meesterklas 3: 12 Junie - Meesterklas 4: In diepte-karakterisering en oefentegnieke.
Webinaar oor Meesterklas 4: 19 Junie - Meesterklas 5: Tegnieke om realistiese en interessante spelkeuses te maak.
Webinaar oor Meesterklas 5: 26 Junie - Meesterklas 6: Tegnieke hoe om “in die oomblik” te bly.
Webinaar oor Meesterklas 6: 3 Julie
KLIK HIER OM TE REGISTREER.
Die videotutoriale met die opsommings word gestuur met die aankoop van die meesterklas en die deelnamesertifikaat, asook ’n opname van die webinaar word gestuur na afloop van die interaktiewe webinaar met Edwin.
Edwin gaan ook optree as mentor vir deelnemers van ATKV-Tienertoneel 2021 en is ook beskikbaar om ATKV-DigiToneelfinaliste vanjaar met een-tot-een mentorsessies te help skaaf.
Kontak ATKV-Tienertoneelprojekorganiseerder JJ van Niekerk vir meer inligting of inskrywings by jj@atkv.org.za of by 076 391 3414.
* Die eerste ATKV-Tienertoneelwebinaarreeks met Cintaine Schutte, Jacques Bessenger, Amalia Uys, Wilhelm van der Walt, dr. André Gerber en Henrietta Gryffenberg kan by jj@atkv.org.za teen R80 per episode of R480 vir die hele reeks gekoop word.