Topklaskuns op veiling te koop
’n Eersdaagse kunsuitstalling bied aan kunsliefhebbers die geleentheid om besondere kunswerke te bekom en terselfdertyd die skepping van ’n kreatiewe ruimte vir kunstenaars te ondersteun.
Die uitstalling, ’n inisiatief van Wêreld, ’n kunsorganisasie wat in 2015 deur Jaco van der Merwe, kletsrymer van die eertydse groep Bittereinder en ook die kreatiewe regisseur van Taalgenoot-RUK EN RYM, op die been gebring. Die ATKV het verlede jaar tydens Wêreld se Worldplay on Paper-funksie as borg van die geleentheid by die Mogale-fees opgetree.
Wêreld se visie is om ’n infrastruktuur te bou wat Suid-Afrikaanse kunstenaars help ontwikkel, vir hulle geleenthede gee om met ander kunstenaars kontak te maak en om hul kuns ten toon te stel.
Dit is juis hierom dat Wêreld beoog om in die Piketberge ’n toevlugsoord te bou waarheen internasionale en plaaslike kunstenaars wat in ’n verskeidenheid dissiplines werk, kan wegbreek om op hul werk te fokus.
Residensies soos dié gee vir kunstenaars die geleentheid om hulle vir ’n tydperk toe te wy aan die skepping van nuwe werk, partykeer op hul eie, maar soms ook in samewerking met ander kunstenaars. Tydens die residensie fasiliteer kunstenaars dikwels werkwinkels saam met plaaslike gemeenskappe en doen ook optredes of uitstallings.
Ter bereiking van hierdie visie bied Wêreld ’n reeks kunsveilings in samewerking met Karen Zoid aan as fondsinsameling vir die oprigting van die Piketberg-projek. Die eerste veiling wat aan die einde van Julie in Pretoria plaasgevind het, was baie suksesvol en 48 kunswerke is verkoop.
Die tweede veiling, wat op 6 September by die Kleinevalleij-landgoed in Wellington gehou word, bied weer ’n indrukwekkende lys kunswerke deur meer as 70 van Suid-Afrika se mees vooraanstaande kunstenaars, onder andere Willem Boshoff, Pierneef, Lionel Smit, Maaike Bakker, Gordon Froud, Nina Torr, Johan Thom, Lien Botha en baie ander.
Belangstellendes is welkom om die veiling by te woon en die meer as 170 kunswerke in lewende lywe te gaan besigtig tussen 16:00 en 18:00 op 6 September. Die geleentheid word deur Jaco en Karen aangebied en skop om 18:00 af, maar daar kan ook aanlyn gebie word deur van die Old Johannesburg Warehouse-toep gebruik te maak. Die katalogus van kunswerke kan op die toep gesien word en potensiële kopers kan ook op die toep reeds hul botte begin plaas.
Soek bloot vir die OldJW Auctioneers-toep in Apple App Store, of klik hier as jy ’n Android-toestel gebruik.
Om meer uit te vind oor Wêreld se reeks kunsuitstallings, volg Wêreld op Instagram by @wereldretreats en @wereld_sa.