Topskoolkore ding by Applous-finaal mee

Die finale aande van vanjaar se ATKV-Applous-skoolkoorkompetisie is byna hier! Die finale ronde van hierdie geliefde kompetisie vind vanaf Woensdag 30 Julie tot Saterdag 2 Augustus in die ZK Matthews-saal by UNISA in Pretoria plaas.
ATKV-Applous bied leerders die geleentheid om hul liefde vir Afrikaans en vir koorsang uit te leef.
’n Indrukwekkende 292 hoër- en laerskoolkore het gedurende Mei 2025 in 12 kategorieë aan die kompetisie deelgeneem. Hierdie kategorieë sluit in junior kore, laerskool-meriete-kore (Afrikaans en nie-Afrikaans), laerskool-prestige-kore, hoërskool-meriete gemeng, meisies en seuns, hoërskool-prestige gemeng, meisies en seuns, asook ’n laerskool- en hoërskool-ope-afdeling.
ATKV-Applous maak binnekort die top 10- junior kore van 2025 bekend.
Tydens die finaal word kategoriewenners in elk van die oorblywende elf kategorieë aangewys. Daarbenewens word toekennings ook in die onderskeie kategorieë vir die beste uitvoering van ’n voorgeskrewe lied, die beste uitvoering van ’n Afrikaanse lied en die beste uitvoering van ’n Afrika-lied oorhandig.
In 2025 loods die ATKV-Applous-span, in samewerking met Pierre en Pauli Produksies en Dirk Theron Productions, ook ’n toegewyde aanlyn platform waar die optredes tydens die finaal regstreeks gestroom kan word deur diegene wat nie die gala-aande in Pretoria kan bywoon nie. Die platform bied dus selfs vir familie in die buiteland die geleentheid om die ATKV-Applous-finaal te kyk.
Hoewel kaartjies om die geleentheid in persoon by te woon reeds uitverkoop is, is kaartjies om die regstreekse aanlyn uitsending te stroom nog teen R100 beskikbaar. Klik gerus op hierdie skakel om na die platform geneem te word.
Bessie Keun, ATKV-Applous-organiseerder, sê: “Vanjaar is my 26ste jaar by ATKV-Applous en elke jaar is die finaal beter, groter, lekkerder en die standaard hoër. Indien jy nog nie ’n finaal bygewoon het nie, weet jy nie wat ons weet nie. Koorsang in Suid-Afrika kóók!”
Die volgende kore (in alfabetiese volgorde) sal mekaar tydens die ATKV-Applous-finaal die stryd aansê. Hou gerus die pers dop om te sien watter kore as die topskoolkore in Suid-Afrika gekroon word.
Woensdag 30 Julie 2025
Laerskool-ope
- St George’s Diocesan School
- Walvis Bay Gymnasium
Laerskool-meriete: Afrikaans
- Laerskool Hartenbos
- Laerskool Menlopark
- Laerskool Mooirivier
- Laerskool Totius
Hoërskool-ope
- Hatfield Christian School
- Hoërskool Jeugland
- Hoërskool Pearson
- Maranatha Christian School
Donderdag 31 Julie 2025
Laerskool-meriete: Nie-Afrikaans
- Laerskool van Riebeeckpark
- Lesedi Primary School
- Newcastle Senior Primary School
Laerskool-prestige
- Laerskool Durbanville
- Laerskool Elarduspark
- Laerskool Eversdal
- Laerskool Gene Louw
- Table View Primary
Vrydag 1 Augustus 2025
Hoërskool-meriete: Gemeng
- Benoni High School
- Hatfield Christian School
- Hoërskool Noordheuwel
- Rietondale High School
Hoërskool-meriete: Meisies
- Hoër Meisieskool Paarl
- Hoërskool Ferrum
- Riebeeck College Girls’ High School
Hoërskool-meriete: Seuns
- Maritzburg College
- St. Alban’s College
Saterdag 2 Augustus 2025
Hoërskool-prestige: Gemeng
- Hoërskool Ferrum
- Hoërskool Menlopark
- Hoërskool Waterkloof
- Newcastle High School
Hoërskool-prestige: Meisies
- Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria
- Eunice High School
- Stellenberg Hoërskool
Hoërskool-prestige: Seuns
- Afrikaanse Hoër Seunskool
- Michaelhouse
Kontak die ATKV-Applous-projekorganiseerders, Corneli Quinn (corneliq@atkv.org.za of 011 919 9012) of Bessie Keun (bessie@applous.co.za of 072 598 1480) gerus vir enige navrae.
Vir meer inligting oor ATKV-Applous, besoek gerus die ATKV-Applous-webblad by https://atkv.org.za/neem-deel/kultuurprojekte/applous/.