Topstukke gee nuwe ASEM aan jeugteater
Twee komedies het die grootste produksiepryse ingepalm toe die ATKV se ASEM- nasionale Toneelfinaal op Saterdag 3 Oktober by Kunstekaap afgesluit is. Die kandidaat van die Hoërskool Stellenbosch is as die beste ATKV-Tienertoneelproduksie van 2026 aangewys, terwyl A++ van die Laerskool Durbanville die ATKV-Tjokkertoneeltitel verower het.
Die kandidaat ontvang R30 000, die ATKV-Tienertoneel-wisseltrofee en ’n speelvak by die Toyota Stellenbosch Woordfees. A++ ontvang R10 000 en die ATKV-Tjokkertoneel-wisseltrofee. Die toekennings is tydens die prysuitdelingseremonie deur Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, aangekondig.
‘Die kandidaat’ wen met politieke satire
Die kandidaat, ’n nuutgeskrewe teks deur André Gerber, is ’n absurde komedie oor mag, leuens en ’n gemeenskap wat te lank sy oë toemaak. In ’n klein dorpie ontketen ’n ontploffing ’n politieke magstryd waarin drie kandidate vir die burgemeesterspos meeding. Skandale en verraad stuur die gemeenskap al nader aan ’n krisis. André Gerber en Andrea Staude behartig die regie.
Die produksie het ook albei Tienertoneel-hoofrolpryse verower. Johan Swanepoel is as die beste akteur in ’n hoofrol aangewys vir sy vertolking van Jakub Tomczak, en Emelyn Snyman as beste aktrise in ’n hoofrol vir dr. Joanna Dąbrowska. Die nasionale titel neem die skool se produksie nou van die jeugteaterfinaal na ’n verdere speelgeleentheid by die Toyota Stellenbosch Woordfees.
‘A++’ laat tjokkers se talent uitstaan
A++ speel in die uitspattige wêreld van kultuuraande, kompetisies en ambisieuse ouers af. Ilne Fourie se nuutgeskrewe komedie volg Elizabeth Bremmer, ’n skaam laerskooldogter wat graag uit die kollig wil bly, maar deur haar ma vir ’n monoloogkompetisie ingeskryf word. Wat volg, is ’n botsing van groot ego’s en klein mense se drome.
Veronica Geldenhuys en Tronéll Lessing het saam die toekenning vir beste Tjokkerregisseur ontvang. Anru Richter, wat Divan Pienaar vertolk, is as beste Tjokkerakteur aangewys. Met die produksietitel het A++ dus drie nasionale toekennings verower.
Erkenning van agter die skerms tot in die kollig
Die hoop van die Hoërskool Parel Vallei is die ATKV-Tienertoneel-naaswenner en ontvang R20 000. Die produksie het ook die pryse vir beste hantering van tegniese aspekte en die beste ensemble gewen, terwyl Darryl Spijkers as die beste regisseur bekroon is. Die produksie se verhoogbestuurspan het die toekenning vir die beste verhoogbestuurder ontvang.
Die Hoërskool Noordheuwel se op die rug van reuse eindig derde en ontvang R10 000. Markus Knop wen beste klankoperateur, Connor Mackenzie beste beligtingsoperateur en Anzelle Vorster beste aktrise in ’n ondersteunende rol vir haar vertolking van Jamie.
Zukhanye Booysen van die Hoërskool Despatch ontvang die toekenning vir beste akteur in ’n ondersteunende rol as Die Tinker in My hart. Sophia Kruger van die Hoërskool Parel Vallei wen die beste kameeverskyning vir Susanna in Dapperhuis.
Onder die Tjokkertoneelfinaliste het UIL van die Laerskool Beaumont drie toekennings ontvang: beste hantering van tegniese aspekte, beste tjokker-ensemble en beste tjokkeraktrise vir Sienna Shedden as Olivia (Uil).
Anzelle Vorster, Janru Steenkamp en Sebastiaan Louw is op die ATKV-Agent-akteursrol van 2026 geplaas. Elkeen ontvang ’n bemarkingsprofiel vir agentskappe en vervaardigers – ’n geleentheid om hul talent verder aan die professionele bedryf bekend te stel.
Die laaste asem was ’n viering
Die seremonie het ’n ses dae lange fees onder die tema “ASEM” afgerond. Tien Tienertoneelproduksies, gekies uit 190 inskrywings, en ses Tjokkertoneelproduksies uit 67 inskrywings het die nasionale verhoog bereik. Die week het op 28 September met die ATKV-Sêrfinaal begin.
Minke Marais en Xander Venter het die aand aangebied. Albei het in 2018 as ATKV-Tienertoneelspelers aan die nasionale finaal deelgeneem; agt jaar later het hulle as werkende akteurs teruggekeer om die volgende generasie se groot oomblik mee te maak.
Elandré en TULU Entertainment het musiek en beweging tussen die toekennings gebring.
Mercia Eksteen, hoofbestuurder: kommunikasie by die ATKV, het ’n ode aan matrikulante gelewer en die ATKV-Agent-akteursrol bekendgestel. Vanjaar het dié huldeblyk ook matrikulante ingesluit wie se ses jaar lange ATKV-toneelreis reeds by Tjokkertoneel begin het.
Die beoordelaarspaneel by die finaal het bestaan uit Kanya Viljoen, Jacques Bessenger, Bianca Flanders, Hannah Borthwick en Karli Heine. Hul toekennings het die werk van spelers, tegniese spanne, ensembles en regisseurs erken – die mense wat saam ’n produksie laat leef.
Vir die 16 finalisproduksies was die aand die slot van ’n nasionale reis. Vir die wenners wag nuwe speelgeleenthede en erkenning. En vir die jongste spelers was dit ’n blik op waarheen hul liefde vir teater nog kan groei. Die gordyn het by Kunstekaap gesak, maar die stories het nog asem oor.
Volledige nominasies en wenners
ATKV-Tienertoneel 2026
Beste klankoperateur
Nominasies:
- Helé Erasmus – Asemrowers – Hoërskool Durbanville
- Mila Barratt – (S)inK – C&N Sekondêre Meisieskool Oranje
- Markus Knop – op die rug van reuse – Hoërskool Noordheuwel
- Marnu Schoeman – ’n Petisie aan Dionysus – Hoërskool Zwartkop
Beste beligtingsoperateur
Nominasies:
- Minki Brink – Asemrowers – Hoërskool Durbanville
- Hanna Vorster – (S)inK – C&N Sekondêre Meisieskool Oranje
- Connor Mackenzie – op die rug van reuse – Hoërskool Noordheuwel
Beste verhoogbestuurder
Nominasies:
- Lumé Smith en Caleigh Joubert – Hildemar – Hoërskool Noordheuwel
- Bethany Wentzel – Dapperhuis – Hoërskool Parel Vallei
- Celesté Grobler, Katherine Williams en Olivia Jacobs – Die hoop – Hoërskool Parel Vallei
Beste hantering van tegniese aspekte
Nominasies:
- Asemrowers – Hoërskool Durbanville
- Hildemar – Hoërskool Noordheuwel
- op die rug van reuse – Hoërskool Noordheuwel
- Die kandidaat – Hoërskool Stellenbosch
- Die hoop – Hoërskool Parel Vallei
Beste kameeverskyning
Nominasies:
- Sophia Kruger as Susanna – Dapperhuis – Hoërskool Parel Vallei
- Benyamin Amoraal as Baba – Die kandidaat – Hoërskool Stellenbosch
Beste akteur in ’n ondersteunende rol
Nominasies:
- William le Roux as Boeremuis – Dapperhuis – Hoërskool Parel Vallei
- Zukhanye Booysen as Die Tinker – My hart – Hoërskool Despatch
- Keagan Swart as Luka – op die rug van reuse – Hoërskool Noordheuwel
Beste aktrise in ’n ondersteunende rol
Nominasies:
- Berné Peters as Rotkoning – Dapperhuis – Hoërskool Parel Vallei
- Minke-Mine Neethling as Mattewis – Skaduvlieg Motel – Hoërskool Garsfontein
- Anzelle Vorster as Jamie – op die rug van reuse – Hoërskool Noordheuwel
- Paige Alexander as Robin – op die rug van reuse – Hoërskool Noordheuwel
- Olivia van der Westhuizen as Natalia Szczepańska – Die kandidaat – Hoërskool Stellenbosch
Beste akteur in ’n hoofrol
Nominasies:
- Janru Steenkamp as Janru – Asemrowers – Hoërskool Durbanville
- Sebastiaan Louw as Venter – Skaduvlieg Motel – Hoërskool Garsfontein
- Johan Swanepoel as Jakub Tomczak – Die kandidaat – Hoërskool Stellenbosch
- Jesse Nel as Janusz Kowalski – Die kandidaat – Hoërskool Stellenbosch
Beste aktrise in ’n hoofrol
Nominasies:
- Huibré van Zyl as Huibré – Asemrowers – Hoërskool Durbanville
- Karah Pieters as Alma – Hildemar – Hoërskool Noordheuwel
- Lenadri Groenewald as Logan – op die rug van reuse – Hoërskool Noordheuwel
- Emelyn Snyman as dr. Joanna Dąbrowska – Die kandidaat – Hoërskool Stellenbosch
- Carli Erasmus as Hoopvol, ’n geel hoop – Die hoop – Hoërskool Parel Vallei
Beste ensemble
Nominasies:
- Asemrowers – Hoërskool Durbanville
- Dapperhuis – Hoërskool Parel Vallei
- op die rug van reuse – Hoërskool Noordheuwel
- Die kandidaat – Hoërskool Stellenbosch
- Die hoop – Hoërskool Parel Vallei
Beste regisseur
Nominasies:
- Frans Hamman – Asemrowers – Hoërskool Durbanville
- Robert Kruger en Mariki de Villiers-Knop – op die rug van reuse – Hoërskool Noordheuwel
- André Gerber en Andrea Staude – Die kandidaat – Hoërskool Stellenbosch
- Darryl Spijkers – Die hoop – Hoërskool Parel Vallei
Beste produksie
Nominasies:
- Asemrowers – Hoërskool Durbanville
- Dapperhuis – Hoërskool Parel Vallei
- op die rug van reuse – Hoërskool Noordheuwel
- Die kandidaat – Hoërskool Stellenbosch
- Die hoop – Hoërskool Parel Vallei
ATKV-Agent-akteursrol
Anzelle Vorster, Janru Steenkamp, Sebastiaan Louw.
Elkeen ontvang ’n bemarkingsprofiel vir agentskappe en vervaardigers.
ATKV-Tjokkertoneel 2026
Beste hantering van tegniese aspekte
Nominasies:
- Hart – Laerskool Bastion
- A++ – Laerskool Durbanville
- UIL – Laerskool Beaumont
Beste tjokkerakteur
Nominasies:
- Walter Olckers as Prins Charming – Hart – Laerskool Bastion
- Anru Richter as Divan Pienaar – A++ – Laerskool Durbanville
- Neil Grobler as Kallie/Orden – Dagdromer – Laerskool Roodekrans
Beste tjokkeraktrise
Nominasies:
- Emiley Squier as Proto – Hart – Laerskool Bastion
- Carike Willemse as Elmarie – Die Neonkas – Laerskool Roodekrans
- Lara Enslin as Elizabeth Bremmer – A++ – Laerskool Durbanville
- Sienna Shedden as Olivia (Uil) – UIL – Laerskool Beaumont
Beste tjokker-ensemble
Nominasies:
- Hart – Laerskool Bastion
- Die Neonkas – Laerskool Roodekrans
- A++ – Laerskool Durbanville
- UIL – Laerskool Beaumont
Beste Tjokkerregisseur
Nominasies:
- Jan Burger – Hart – Laerskool Bastion
- Veronica Geldenhuys en Tronéll Lessing – A++ – Laerskool Durbanville
- Megan Grobbelaar – UIL – Laerskool Beaumont
Beste tjokkerproduksie
Nominasies:
- Hart – Laerskool Bastion
- A++ – Laerskool Durbanville
- UIL – Laerskool Beaumont
Kyk weer na die prysuitdelingseremonie: https://www.youtube.com/live/FI8GmE0sl1Y