Truitjies verbly kinderharte by AbbAsorg Pinocchio
Elsa van Tonder, ’n lid van die ATKV-tak Hartenbos, is dalk ’n afgetredene, maar rus beslis nie op haar louere nie. Die afgelope ses jaar al brei sy heeljaar lank aan ongeveer 50 truitjies vir kinders, van babas tot omtrent ses jaar oud, wat sy dan skenk aan verdienstelike organisasies, klinieke en kinders wat uit moeilike maatskaplike omstandighede kom. Vanjaar het Elsa vir die tweede maal besluit om die vrug van haar arbeid aan die ATKV-AbbAsorgsentrum Pinocchio in Mosselbaai te skenk.
Elsa is nederig oor die donasie van truitjies, wat onlangs aan die kinders van AbbAsorg Pinocchio oorhandig is, en noem dit haar deeltjie wat sy bydra om iets vir die kinders te gee. “Ek doen dit maar net eerstens om saans besig te bly voor die televisie en andersins omdat ek lief is vir kinders,” sê Elsa.
Sy en haar man woon al die afgelope paar jaar in Mosselbaai en het per ongeluk op AbbAsorg Pinocchio afgekom toe hulle deur die dorp gery het om die omgewing te verken. Sy het toe besluit om die truitjies wat sy brei om kinders in nood teen die winterkoue te beskerm aan dié VKO-sentrum te skenk.
ATKV-AbbAsorg Pinocchio in Brandwag, Mosselbaai, beywer hom vir die voorskoolse opvoeding van ongeveer 50 kinders en het die afgelope vyf jaar rondom 200 jong leerders skoolgereed gekry vir verdere opvoeding by plaaslike laerskole. Met ’n holistiese benadering tot vroeëkinderontwikkeling maak AbbAsorg Pinocchio ’n werklike verskil om die toekoms van ons land toe te rus met broodnodige vaardighede.
René Jansen, sentrumhoof by AbbAsorg Pinocchio, sê Elsa se ruimhartige skenking dra by tot die sentrum se fokus om by die kleingoed ’n gevoel van eiewaarde te skep.
“Ons bedank tannie Elsa van Tonder, ’n besonderse persoon wat haar tyd en energie onbaatsugtig aan ons kleuters se behoefte bestee het. Dit is die tweede jaar wat sy vir ons kleuters pragtige warm truitjies gebrei het. Sy doen ook die moeite om dit self af te lewer en vir ons leerders ’n pragtige boodskap te gee: ‘Jesus moet altyd in ons harte leef’. Sonder haar tyd en moeite sou ons kleuters in nood nie truitjies ontvang het nie. Die skenking het ons kleuters goed en gewaardeer laat voel, en help hulle om voorbereid skool toe te kom om te leer. Ons is baie dankbaar vir tannie Elsa en wens haar net voorspoed toe,” sê René.
Hierdie inisiatief is maar een van die ATKV-tak Hartenbos se uitreikaksies in hul gemeenskap.
Japie Gouws, voorsitter van die ATKV-tak Hartenbos, vertel dat dié tak al ’n klompie jare bestaan. “Ons aktiwiteite het hoofsaaklik te doen met die plaaslike laerskole en ook by die hoërskool met debat en redenaars, waar ons die kinders ondersteun. Dan poog ons ook om by die ouetehuise uit te kom en ’n bietjie stories te vertel.
Die ATKV-tak Hartenbos span ook die ATKV se eie idiome-bordspeletjie, Meer bek as binnegoed, in om kinders meer te leer oor die kleurrykheid van Afrikaans. Hulle beplan om ’n kompetisie by die Laerskool Hartenbos aan te bied om die jonges se taalvaardigheid te toets. “Hopelik sal ons daardeur ook die belangstelling in Afrikaans bevorder.”
Daarbenewens vereer die ATKV-tak Hartenbos graag lofwaardige persone uit hul eie omgewing – hulle het verlede jaar ’n Afrikoon-toekenning oorhandig aan mnr. Ivan Kronenberg, ’n skoolhoof in Mosselbaai wat wonderlike werk in die gemeenskap en onder jongmense doen.
Om betrokke te raak by die ATKV-tak Hartenbos, kontak Anton Botes by 079 892 0747 of stuur ’n e-pos na ajbotes18@gmail.com. Besoek https://atkv.org.za/ons-storie/takke/ om jou naaste ATKV-tak of ATKV-jeugtak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.