Tuinroete-onnies bederf vir Wêreldonderwysersdag
5 Oktober is Wêreldonderwysersdag en Oktober is ook die maand waarin die onderwysberoep gevier word en daar erkenning gegee word aan die uitnemende werk wat deur onderwysers regoor die wêreld gedoen word. Wêreldonderwysersdag word sedert 1994 jaarliks wêreldwyd gevier ter bewusmaking van die regte en verantwoordelikhede van onderwysers. Die internasionale tema vir Wêreldonderwysersdag 2022 is “Die transformasie van onderwys begin by onderwysers”.
In hierdie luim het die ATKV-onderwysafdeling vanjaar hul Wêreldonderwysersdagvieringe op Saterdag, 8 Oktober by die Laerskool Diaz in Mosselbaai gehou. Dit was ’n glansgeleentheid waar onderwysers en skoolhoofde bederf is met optredes deur sprekers, gaskunstenaars en ’n driegangmaaltyd. André Hendricks, projekorganiseerder van die ATKV-onderwysafdeling, sê, “Die ATKV besef wat die belangrike rol is wat onderwysers speel en dat onderwys alle ander beroepe moontlik maak.” Die geleentheid is deur amptenare van die onderwysdepartement, afgetrede onderwysers, asook lede van die publiek bygewoon.
Die geleentheidspreker, mnr. Dirk Kotze, burgemeester van Mosselbaai, het die ATKV in sy praatjie bedank vir die erkenning wat hulle met hierdie geleentheid gee aan die “helde en heldinne” wat elke dag hul beste werk in die klaskamer doen.
Wat is ATKV-Kopskuif?
Die ATKV-Kopskuifprogram is vir hoër- en laerskole en het ten doel om gehalteonderwys te steun deur in skole en gemeenskappe te werk wat die waardes van die ATKV en inklusiwiteit ondersteun om gesonde Afrikaanse netwerke te vestig en uit te brei.
Die program word aangebied om skoolgemeenskappe met lewensvaardighede te bemagtig wat hulle in staat stel om verantwoordelikheid te neem vir hul eie skoolomgewing en die leerders se opvoeding. Op dié manier word skole ondersteun om hul leerders te lei en om hul kultuur, kennis en kreatiwiteit te ontwikkel, sodat die leerders as toekomstige leiers van Suid-Afrika ’n onmisbare deel van nasiebou en versoening sal wees. ATKV-Kopskuif ontwikkel ook sosiale en ekonomiese vooruitgang op ’n volhoubare wyse en is vanjaar reeds in 12 skole aangebied.
Klik hier om meer te lees oor dié program.