Tweede Ignite and Revive-fees op Kroonstad gehou
Kroonstad, wat verlede jaar Kwêla se Dorp van die Jaar-titel gewen het, se tweede Ignite and Revive-fees was ’n reusesukses.
Die fees, wat ten doel het om jaarliks toeriste na Kroonstad te lok en die dorp se ekonomie en beeld ’n hupstoot te gee, is oor drie dae by die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad (Rooiskool) aangebied.
André van Pletzen is die stigter van Ignite and Revive Kroonstad, die beweging wat verandering in die dorp teweeggebring het.
André is ook die hooforganiseerder van die fees en volgens hom het die makietie weereens nie teleurgestel nie, met hope aktiwiteite vir oud en jonk om te geniet.
“Van meganiese bulritte, ’n kinderpretpark en kosstalletjies tot ’n gesofistikeerde teetuin en uitstallers met items vir ’n ieder en ’n elk se smaak,” sê André.
Kunstenaars soos Bok van Blerk, Refentse, Reën, Franja du Plessis, Danny Smoke, Willem Botha, Kurt Darren en Carmen Basson het die feesgangers vermaak.
“Dit is vir my ’n riem onder die hart en ek wil graag vir elke borg, al die organiseerders en almal wat ’n bydrae gelewer het, hartlik bedank. Sonder julle sou die fees nie moontlik gewees het nie.”
Ignite and Revive is in 2016 gestig deur plaaslike sakelui wat ’n verskil in die dorp wou maak. Die inisiatief se hoofdoel is om ’n groeiende ekonomie te bevorder, toerisme ’n hupstoot te gee en om gehaltegesondheidsorg, -skole en -ouetehuise op Kroonstad te help vestig. André sê Ignite and Revive het begin deur die dorp skoon te maak.
“Later het ondernemings die eilande en sirkels in die dorp ‘aangeneem’ en verfraai en mettertyd is slaggate herstel en is baie ander werk ook verrig om vir Kroonstad ’n nuwe baadjie aan te trek,” sê André.
“Kroonstad is ’n voorbeeld vir die res van Suid-Afrika; ons het bewys ons kan as ’n gemeenskap en owerhede saamwerk om ons dorp te vernuwe en tot sy volle glorie te herstel.”
André sê dorpe regoor Suid-Afrika het by die Ignite and Revive-groep gaan kers opsteek nadat Kroonstad verlede jaar as Dorp van die Jaar aangewys is.
“Ek het sedertdien van die Wes-Kaap tot in Noordwes besoek afgelê, praatjies gelewer en planne gedeel oor hoe dorpe met hul eie regruk-aksies kan begin,” sê André.
“Ek is ook baie trots om te sê dat ’n paar van die nege finaliste in vanjaar se Dorp van die Jaar-kompetisie leiding van Ignite and Revive Kroonstad ontvang het.”
Delmas is in Augustus as vanjaar se Kwêla-Dorp van die Jaar aangewys.
“Dit is verstommend om te sien hoe versprei die woord en hoeveel mense ons al gekontak het vir raad en planne om dieselfde in hul plaaslike gemeenskappe te doen,” sê André.
André het na afloop van die fees tydens ’n sakeontbyt by die Arcadia-gastehuis die groep se planne en strategieë vir die sukses van sy projekte gedeel, en het sakelui wat nog nie aangesluit het nie aangemoedig om hande te vat en saam te werk.
“Ignite and Revive het dit reggekry om ’n voorbeeld vir die land te wees deur te bewys dat alles nie verlore is nie en dat jy as Suid-Afrikaner wel iets kan doen, wel ’n verskil kan maak en vir ander hoop kan gee,” sê André.
“Ons het vir die land gewys al is jou dorp in die moeilikheid, kan jy ’n lyn in die sand trek, opstaan en ’n verskil maak. Daarom volg tientalle dorpe en groepe deesdae ons voorbeeld. Ons het soos ’n familie geword – ons leer by mekaar en motiveer mekaar.”
André sê die plaaslike gemeenskap raak al hoe meer gretig om in te spring en te help.
“Die sigbare verskil wat Ignite and Revive vermag het, is groot en meer en meer mense kom aan boord en kry hoop. Hulle sien ons is die real deal.”
André is uiters opgewonde oor volgende jaar se Ignite and Revive-fees, wat van 30 Augustus tot 1 September 2024 aangebied word.
“Ons is ’n drie-in-een-fees. Dit is ’n mengsel van ’n musiekfees, ’n kunstefees en ’n kultuurfees en groei jaar op jaar,” sê hy.
“Dit gaan in 2024 nog groter, nog beter en die beste fees in die sentrale deel van Suid-Afrika wees. Die vermaak is reeds bevestig en die kunstenaars sluit in van die grootste name in die musiekbedryf, naamlik Carma, Riaan Benadé, Demi Lee Moore, Die Piesangskille, Dodo Nyoka, Ruhan du Toit, Spoegwolf, Carmen Basson en ander plaaslike talent.”
André sê die ATKV doen in samewerking met Ignite and Revive baie moeite om die gemeenskap van Kroonstad ’n “kultuurinspuiting” te gee.
“Andriette Potgieter (ATKV-streeksbestuurder: Vrystaat en Noord-Kaap) het al in 2022 met ons hande gevat,” sê hy.
“Die ATKV se betrokkenheid het in 2023 verder vergroot en daar word vir 2024 baie beplan. Sy en haar span was jare lank by die Bloemfonteinse skou betrokke en haar ondervinding en raad is vir ons goud werd.
“Ignite and Revive beskou dit werklik as ’n baie groot voorreg dat die ATKV met ons hande vat en ons ondersteun.”
Belangstellendes wat meer oor die werksaamhede van Ignite and Revive en die fees te wete wil kom, of wat betrokke wil raak, kan ’n e -pos stuur na info@igniteandrevive.co.za of vir André by 082 785 5130 skakel.