Ultra-Mal ruk by Ruk en Rym-finaal!
Hulle is rof en onbeskof. Met harde kitare en ’n voorbok wat sy longe uitskree is dit g’n wonder dat die manne van Ultra-Mal by vanjaar se Taalgenoot-Ruk en Rym-finaal as die naaswenners weggestap het nie.
Die vyf manne van Worcester het ’n unieke benadering en meng rock, punk en hip-hop elemente in hulle musiek. Hulle kombineer ook Xhosa met Afrikaans.
“Ons is Afrikaans, ja. Maar ons is ook Suid-Afrikaans en dit is vir ons belangrik om die kultuur van Suid-Afrika in ons musiek vas te vang. Ons wil soveel as moontlik van ons land in ons musiek verteenwoordig,” sê Dillan van Wyk, kitaarspeler van die groep.
Die groep bestaan uit Sive Mdabuli (kletsrymer/sanger), Wayne Lesch (screamer/sanger), Hanno Eloff (baskitaar), Tertius Nieuwoudt (kitaar) en Dillan van Wyk (kitaar).
Volgens Dillan het hulle die groep verlede jaar gestig.
“As musikante was die idee om eers te sien hoe ons dit alles bymekaar kan smelt deur nog verskillende klankelemente by te voeg, en toe kom ons by Ultra-Mal uit.”
Hy sê hulle unieke klank is te danke aan die lede se uiteenlopende musieksmaak.
“Ons luister enigiets van hip-hop tot heavy metal en rock. Ons het gevoel ons kan ’n unieke klank na die tafel toe bring – iets wat nog nooit regtig in Afrikaans gedoen is nie.”
Hulle put veral inspirasie uit groepe soos Linkin Park en Limp Bizkit.
“Ons wou juis hierdie swaarder klank in Afrikaans aanbied, maar ons wou ook gehad het dat dit vir almal toeganklik moet wees.”
Hy sê hulle het nie twee keer daaraan gedink toe hulle besluit het om vir Ruk en Rym in te skryf nie.
“Ons het besluit om ’n kans te waag. Ons het toe reeds ’n paar liedjies gehad. Behalwe vir die geleenthede wat die kompetisie bied, wou ons al ons eienskappe en vlakke van kreatiwiteit as ’n band saam sien en hoe ons na ’n doel toe kan werk. Ons is nog net ’n jaar saam, dus was dit die perfekte geleentheid om dit te sien, en dit is hoekom ons ingeskryf het.”
Al het die manne net ’n jaar al saam musiek gemaak, was hulle reeds ’n geoliede ruk-en-rol-masjien en vol selfvertroue.
“Ons het ingeskryf met die hoop dat ons goed sou doen. Ons was op ’n goeie plek en het toe reeds ons klank gevind.”
Hy sê die samesyn onder al die deelnemers was vir hulle ’n hoogtepunt.
“Ons het nooit die ander deelnemers as opponente gesien nie, maar eerder as medekunstenaars. Die vibe was fantasties. Dit was wonderlik om te sien hoe almal mekaar ondersteun en saam dans op mekaar se musiek.”
Nog ’n hoogtepunt vir hulle was om voor groot name soos Jack Parow en Hunter Kennedy op te tree.
“Hulle is vir ons ’n groot inspirasie en om die kans te kry om jou musiek aan hulle voor te stel, was ’n groot voorreg.”
Dillan sê hulle hoop om nog musiek uit te reik en om ’n naam vir hulself in die musiekbedryf te maak.
“Dinge kan van hier af net beter raak. Ons wil toer en by feeste optree. Dit sal ook great wees as ons verhoë saam met groot name kan deel.”
Taalgenoot-Ruk en Rym leef nie net op die verhoog nie – die energie gaan voort op ons sosialemediaplatforms. Volg ons op Facebook, Instagram en TikTok vir hoogtepunte, agter-die-skerms oomblikke en die jongste nuus oor die alternatiewe musieklandskap.