UP-toppresteerders in Afrikaans deur ATKV vereer
Dit sit nie sommer in enige persoon se broek om as ’n akademiese toppresteerder vereer te word nie.
Die Universiteit van Pretoria (UP) se departement Afrikaans het op sy jaarlikse prysuitdeling twee Afrikaans-studente vir hul uitstekende prestasie as toppresteerders in Afrikaans beloon. Die ATKV borg jaarliks pryse vir hierdie geleentheid.
Heliané Aucamp het die ATKV-prys vir die beste presteerder in Afrikaans op eerstejaarsvlak vir 2023 ontvang.
“Ek was al van kleintyd af lief vir Afrikaans, maar ek was bevoorreg genoeg dat my ma baie ondersteunend was en my aangemoedig het om aan eisteddfods deel te neem,” sê sy.
“Tog kan ek onthou dat ek werklik eers besef het dat ek lief is vir Afrikaans toe ek teen die einde van graad nege ’n gedig gelees het. Dit was ook die eerste keer dat ek oorweeg het om Afrikaans te studeer.”
Heliané sê sy was nog altyd gemotiveerd om akademies te presteer.
“... veral wanneer dit by tale gekom het, en ek het vanaf my skooldae goed in Afrikaans presteer. Alhoewel ek vanself lief is vir Afrikaans, het ek van graad 10 tot graad 12 ’n wonderlike Afrikaans-onderwyseres gehad. Juffrou Marieke Buys het ’n baie groot invloed op my gehad en was ’n groot inspirasie vir my om verder Afrikaans te studeer. Sy was altyd bereid om ’n treetjie verder te gaan om die leerders te help en sy was werklik vir my ’n rots.”
Heliané se liefde vir taal is egter nie net tot Afrikaans beperk nie.
“Ek kan baie beperkte Spaans praat en het die afgelope paar maande Nederlands begin leer. Verder kan ek ook Engels praat.”
Heliané is tans besig met ’n BA-graad in tale.
“My studierigting is spesifiek op Engels en Afrikaans gerig,” sê sy.
“Ek sal graag in ’n uitgewery wil werk, spesifiek in redigering. Tog oorweeg ek ook om verder in taalkunde te studeer. Hoewel ek nie seker is oor presies wat die toekoms vir my inhou nie, weet ek dat Afrikaans altyd ’n groot rol in my lewe sal speel.”
Heliané se gunstelinggedig in Afrikaans is “Digterlike dilemma” deur Daniel Hugo, een van haar gunstelingboeke is Sewe dae by die Silbersteins deur Etienne Leroux, en Vir die voëls is een van die Afrikaanse rolprente waaroor sy mal is.
Leigh-Ann Luwes is vereer met die ATKV-prys vir die honneursstudent wat uitmuntend presteer het in Afrikaanse taalkunde in 2023.
Leigh-Ann sê haar liefde vir Afrikaans kom al van kleintyd af.
“Ek het grootgeword in ’n huis waar ek gereeld blootgestel is aan woordspeletjies, blokkiesraaisels en woordsoek,” sê sy.
“Dit het daartoe gelei dat ek al hoe meer wou weet waar spesifieke Afrikaanse woorde vandaan kom en hoe spesifieke idiome hul weg na die Afrikaanse taal gevind het. Hierdie geneigdheid om meer te wil weet oor die herkoms van Afrikaanse woorde en idiome was die dryfveer om ná skool verder Afrikaans te studeer. Ek was dus uit my vel toe ek uitvind dat morfologie in my eerste en derde jaar aangebied word, aangesien ek meer oor die herkoms van Afrikaanse woorde kon leer.
“Hierdie liefde vir taal het met my honneurs verder toegeneem, want die meeste van my vakkeuses het uit taalkunde bestaan.”
Leigh-Ann sê haar passie vir die herkoms van woorde het ook ’n invloed op die keuse van die onderwerp van haar honneursskripsie gehad.
“Die onderwerp het gehandel oor die Afrikaanse woorde wat hulle oorsprong in die Germaanse en klassieke tale gehad het. Afrikaans sal altyd my gunstelingtaal bly en ek leef my liefde vir die taal in my studies uit. Ek leer elke dag iets nuuts, want die taal is en bly ’n interessante taal.”
Leigh-Ann sê dit is nogal moeilik om haar gunsteling- Afrikaans-onderwyser te kies.
“Ek het vir die duur van my skoolloopbaan puik Afrikaans-onderwysers gehad en ek dink elkeen van hulle se liefde vir die taal is weerspieël in die wyse waarop hulle die vak aangebied en oorgedra het. Dit het beslis my keuse en liefde vir die taal verder laat groei.”
Leigh-Ann is ook vlot in Engels, basiese Frans wat sy vir twee jaar op universiteitsvlak studeer het, basiese Suid-Sotho en ’n bietjie Spaans.
Sy is tans besig om haar meestersgraad in die aanleer van Afrikaans as tweede taal te voltooi.
“Ek beplan om ná my meesters verder te studeer en my doktorsgraad te verkry om nog dieper in die Afrikaanse taal te delf.”
Leigh-Ann sê daar is drie hoofredes hoekom Afrikaans so ’n wonderlike taal is.
“Eerstens, die feit dat Afrikaans uit die invloei van verskillende tale, vanweë die taalkontaksituasie, ontstaan en ontwikkel het. Tweedens, Afrikaans is propvol humoristiese uitdrukkings en natuurlik ’n paar lekker tongknopers, veral die met die unieke ‘g’-klank wat in Afrikaans voorkom. Een so ’n voorbeeld is ‘grys grillerige goggatjies grawe graag geweldige groot gate’. Laastens, sommer net omdat sekere woorde eenvoudig mooier in Afrikaans klink.”
Leigh-Ann se gunstelinggedig in Afrikaans is “Die sagte sprong” deur Sheila Cussons, haar gunstelingboek is Dalene Matthee se Kringe in die Bos, en haar gunstelingrolprent is Liefling, die movie. Haar gunstelingliedjie is Juanita du Plessis en haar kinders se “Kaalvoetkind”.