Veer in die hoed vir woordkunstenaars
Met die ATKV-Woordveertjies bekroon die ATKV outeurs wat deur hul woordkuns ’n lewende erfenis bou.
Die wenners van die Prys vir Poësie, die Prys vir Romanses, die Prys vir Liefdesroman en die Prys vir Dramateks is soos volg:
In die kategorie Prys vir Poësie was die beoordelaars Lynthia Julius, Bernard Odendaal en Christo van der Westhuizen.
Die wenner is Herman Wasserman met Waterman, uitgegee deur Queillerie.
Die beoordelaars meen dat die weerklank wat Herman Wasserman se van in die titel Waterman vind, reeds suggereer dat wat in dié digbundel verwoord staan, sterk outobiografiese oorspronge het. Tog verteenwoordig die “ek” wat in die gedigte figureer ook ’n bepaalde soort mens: ’n “geleerde drenkeling” wat sterk bewus is daarvan dat hy “blank, bejaard en bang” is, soos dit in sekere van die verse lui.
Die bundel ondersoek die spanningsveld tussen persoonlike belewenisse en die groter uitdagings van ons politieke, maatskaplike en natuurlike omgewings.
’n Wye kulturele verwysingsveld spreek uit die gedigte; tog bly Waterman ’n toeganklike, innemende bundel. Die verspreide metaforiese benutting van water- en seevaartverwante woordeskat en segswyses val op en versterk die indruk van bundelsamehang. Dié afgeronde digdebuut van hom dra kragtig by tot Wasserman se reeds gevestigde skrywerskap.
Rina Cilliers van die Romanza-stal wen in die kategorie Prys vir Romanses met In ’n sprokie verweef.
Die beoordelaars, Carol-Ann Alexander, Christelle Botha en Amanda Claassens, meen dat In ’n sprokie verweef ’n lekkerleesverhaal met geloofwaardige hoofkarakters is. Dit speel af in die pragtige landskap van die Hemel-en-Aarde-vallei.
Die ontwikkelende verhouding tussen Alichi en Stefan lees natuurlik, en die spanning tussen hulle word nie te vroeg ontlont nie.
Alichi se beroep – weefwerk en weefontwerp – is ’n minder bekende handvaardigheid en bring ’n interessante en vars aspek na die storielyn.
Die kulturele dinamiek van die plaaswerkers se vroue, asook familiekonflik, rond die storie goed af en verskaf ’n groter konteks. Baie lesers sal met die storie kan identifiseer. Dit spreek van hoop en drome en moed hou.
Die Prys vir Liefdesroman is vanjaar deur Malene Breytenbach, Anschen Conradie en Cliffordene Norton beoordeel.
Sophia Kapp met Sterre is vir altyd, uitgegee deur Boekdiva Uitgewers is vanjaar die wenner.
Sterre is vir altyd is ’n sterk liefdesroman wat in Parys afspeel. Dit is ’n moderne, eg Suid-Afrikaanse roman. Max se verlede, veral sy ma se storie, gee die roman onverwagse en nodige diepte.
Max en Janie se Parys-week staan sentraal in hierdie romantiese verhaal wat ewe gemaklik as ’n goedvoelroman beskryf kan word. Die koestering en geborgenheid van omgeegroepe skep ’n holte vir die lesersvoet wat toenemend uitgedaag word deur die hedendaagse onrus en chaos.
Subtiele perspektiefwisselings verseker ook dat die leser by die binnewêreld van die twee hoofkarakters betrek word, eerder as om deurlopend ’n eensydige beeld te verkry of ’n onbetrokke toeskouer te wees.
Hierdie aangrypende en genuanseerde verhoudingsroman is duidelik die werk van ’n ervare skrywer, sê die beoordelaars.
Drama gee lewe aan die letterkunde, en vanjaar se Prys vir Dramateks is beoordeel deur Marina Griebenow, Ilse Oppelt en Wim Vorster.
Nicola Hanekom is vanjaar die wenner met Deur die donker uur. Die beoordelaars beskryf Deur die donker uur as ’n Griekse tragedie in ’n eietydse voorstelling oor ’n verbygegane era wat immer sal voortduur.
Die werk is ’n absurde of abstrakte weergawe van die werklikheid. Nie alleen ruk dit die siel nie, maar dit onderstreep weer eens, sonder kanonskote, die feit dat die vrou altyd, in alle omstandighede, tydens vrede of oorlog, die onderspit delf. Nie soseer in persoonlike verhoudings nie, maar polities en sosiaal gesproke.
Emily Hobhouse is die vertrekpunt, maar nie die hoofkarakter nie.
Dit is ’n ryk geskakeerde teks vol wendinge en onverwagse beelde. Hanekom is ’n skerpsinnige en intelligente dramaturg met onberispelike intuïsie en ’n fyn aanvoeling vir wat belangrik is en gesê móét word, teenoor dit wat bloot inslag by ’n gehoor sal vind.
Hartlik geluk aan al die wenners van vanjaar se ATKV-Woordveertjies! Dit is vir die ATKV ’n voorreg om Afrikaans se woordmeesters op hierdie manier te vereer.