Vier die geskrewe woord met ’n Afrikaanse boek
Is jy lief vir Afrikaans en dol oor boeke? Dan is Koop-’n-Afrikaanse-boekdag spesiaal vir jou!
Dié dag, wat op 14 Augustus gevier word, is ’n inisiatief van die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n afdeling van die ATKV, en word vanjaar vir die 19de keer aangebied ter ondersteuning van die Afrikaanse boekbedryf. Boonop kry boekliefhebbers elke jaar afslag op Afrikaanse boeke wat hulle op hierdie dag koop.
Chareldine van der Merwe, projekbestuurder van die VVA, sê vir haar organisasie is dit heerlik om op hierdie manier die lekkerte van lees en Afrikaanse boeke onder almal se aandag te bring. “Die VVA fokus juis op leesbevordering en maniere om ’n liefde vir lees vanaf ’n jong ouderdom by kinders te kweek.”
Die dag is ook vir die VVA ’n manier om te help verseker dat die Afrikaanse geskrewe woord nog lank sal voortbestaan. “Ons wil graag hê dat almal, oud en jonk, toegang moet hê tot goeie Afrikaanse boeke en stories. Maar dit is ongelukkig ook so dat daar later nie meer ’n Afrikaanse boekbedryf en nuwe Afrikaanse boeke gaan wees as ons, die lesers, nie die bedryf met ons beursies ondersteun nie. Die VVA en die ATKV doen ’n beroep op lesers om nie Afrikaanse e-boeke onwettig af te laai of te versprei nie – jy benadeel nie net die skrywer nie, maar ook die boekwinkels en uiteindelik ons taal.”
Van der Merwe sê almal wat lief is vir boeke baat by Koop-’n-Afrikaanse-boekdag. “Lesers kry afslag, skrywers verdien tantieme en boekhandelaars en uitgewers verkoop meer boeke. Hoe meer boeke verkoop, hoe beter vir die Afrikaanse boekbedryf en vir Afrikaans.”
Volgens haar was die inisiatief in die verlede altyd baie suksesvol. “Daar was beslis ’n toename in die aantal kopers en Afrikaanse boeke het oral van die rakke gevlieg.”
Die VVA hoop dat die dag vanjaar weer ’n groot sukses sal wees. “Ons weet tye is moeilik, maar ons hoop dat boekliefhebbers wel hierdie kans sal gebruik om vir hulself, vir die mense in hul lewens en dalk ook vir iemand wat dit nie kan bekostig nie, boeke te koop. Elke boek wat jy koop, maak iewers ’n verskil.”
Die volgende boekwinkels en uitgewers het reeds aangedui het dat hulle Koop-’n-Afrikaanse-boekdag saam met die VVA en die ATKV gaan vier met ’n spesiale afslag. Hou gerus boekwinkels se sosialemediablaaie dop vir nog meer spesiale aanbiedings.
- Graffiti Boeke: 20%-afslag op alle nuwe boeke en topverkopers (bestel aanlyn by https://www.graffitiboeke.co.za/)
- Akademia: 10%-afslag (bestel by https://winkel.akademia.ac.za/product-category/boeke-en-gidse/)
- Aristata Boekwinkel in Hatfield (voorheen Protea Boekwinkel): 20%-afslag op alle Afrikaanse boeke (akademiese boeke uitgesluit) (https://aristata.co.za/)