Vier jou regte, belê in jouself
Die osse stap aan deur die stowwe,
geduldig, gedienstig, gedwee;
die jukke, al drukkend hul skowwe-
hul dra dit getroos en tevree.
Jan F.E. Celliers se gedig oor die lot van osse in Die Ossewa kry deesdae gestalte in die mensdom. Geduldig, gedienstig en gedwee swoeg ons in die sweet van ons aangesig om ons brood te verdien. Of almal getroos en tevree voel, is debatteerbaar.
Ons ploeter rond op die eerste vier trappies van Maslow se piramide en daar is bloot net nie die tyd of altyd die energie om by die beste weergawe van onsself (self-aktualisering) uit te kom nie.
Met Menseregtedag op 21 Maart word ons vir ’n oomblik gevra om stil te staan by ons regte – by regte soos gelykheid, menswaardigheid, op lewe, op vryheid en sekerheid.
Die ATKV wil jou vandag vra om vir ’n oomblik te fokus op jou reg om die beste jy te wees.
Volgens Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, bestaan bogenoemde uit ’n kombinasie van regte.
“Dit lê in menswaardigheid (elke mens is waardevol); in onderwys (die mens se reg om te leer en te groei); vryheid van beroep (om jou potensiaal na te streef); en vryheid van assosiasie (om by die ATKV aan te sluit).
“Wanneer ons aan Menseregtedag dink, dink ons dit gaan net oor groot dinge – sosio-ekonomiese regte, vryheidsregte, ensovoorts, maar by die ATKV glo ons ook dit gaan oor die reg om te groei. Om nie net te oorleef nie, maar om te leef en die beste weergawe van jouself te wees.”
Die ATKV werk hard om platforms te skep om dit moontlik te maak.
Dink aan ATKV-takke, waar hartsdinge doendinge word en hoe taklede daarna streef om ander te help om Maslow se trappies uit te klim.
“Kultuur word gebruik om mense wyd en syd toe te rus met die vaardighede en kultuurdiepte om die land van rugby en sonskyn uit te bou tot die land van hoop en geleenthede,” sê Sonél.
Voeg daarby projek ná projek wat in mense belê – of dit nou die senuweeagtige gr. 1’tjie is wat met ’n bewende broek voor redenaarsbeoordelaars staan; ’n dramatiese Tienertoneel-deelnemer wat selfversekerd sy passie op die verhoog uitleef; skrywers wat met hul pennevrug ATKV-Woordveertjies losskryf; of kreatiewes wat danksy tegnologiese vooruitgang hul slag in kuns, spel en voordrag met DigiProjekte kan wys.
Kom ons keer vir ’n oomblik terug na Celliers se osse:
Die middagson brand op die koppe,
gebuk in hul beurende krag;
hul swaai heen en weer in die stroppe-
en ver is die tog van die dag.
Wanneer jy weer deur die dag beur en net-net oorleef, herinner jouself daaraan dat jy die reg het om die beste jy te wees, meen Sonél.
“Miskien hoef ’n mens nie eers heel bo-op Maslow se piramide te wees nie. Miskien is dit genoeg om net een trappie hoër te klim. Begin net.
“Registreer vir die ATKV-Skryfskool om die boek te skryf wat jy nog altyd wou skryf. Skryf in vir een van die vele DigiProjekte, of kom leef jou passie vir musiek by ATKV-Crescendo uit. Lees ’n boek van een van die ATKV-Woordveertjiewenners, woon ’n kunstefees by of gee van jouself by ’n ATKV-tak.”
Jou toekoms begin met vandag se keuse om in jouself te belê.