Vier jou talent ná vyftig met Andante Plus50
Net omdat jy in jou herfsjare is, beteken dit nie jy moet nou op die stoep sit en krepeer nie – 70 is immers die nuwe 50.
Of jy nou die stem van ’n nagtegaal het, vingers wat met gemak oor die klawers dans, of meesterstukke met ’n kwas maak – jou kreatiwiteit verdien ’n verhoog.
“Daar ís ’n behoefte onder ons mense om gehoor en gesien te word,” sê Cor Uys, organiseerder van die Andante Plus50-talentkompetisie.
Dié kompetisie, in samewerking met ATKV-Buffelspoort en die PLUS 50-tydskrif, bied vir senior burgers ’n platform waar hulle hul talente ten toon kan stel.
Enigiemand bo 50 jaar, behalwe professionele en voltydse kunstenaars wat steeds as musikante bedrywig is, mag deelneem.
Die kompetisie het verlede jaar bekendgestaan as die Andante Plus50-musiekkompetisie, maar vanjaar brei dit uit met nuwe kategorieë wat veel meer as net sang en musiek insluit.
“Dit is nou ’n volwaardige talentkompetisie. Hierdie jaar het ons ’n storievertelling-, drama-, en kunskategorie,” sê Cor.
Verder sluit die kompetisie drie addisionele kategorieë in, naamlik sang (soliste, duette of groepe van drie tot ses persone), eie komposisie (nuwe lirieke en musiek wat nog nie vrygestel of opgeneem is nie), en instrumentaal (solo‑instrumentaliste of orkeste van tot ses persone).
Volgens Cor is daar vanjaar ook ’n ouderdomskategorie vir die sangafdeling.
“Dit gee die persoon van 85 die geleentheid om teen sy eie portuurgroep deel te neem.”
Jy kan digitaal inskryf, maar vanjaar is daar ook lokale waar mense lewendige oudisies kan doen.
“Dit is natuurlik nie verpligtend nie en mense wat ver bly of net nie lus is nie, kan steeds hulself opneem en digitaal inskryf.”
Inskrywings is reeds oop en sluit op 1 Augustus.
Onafhanklike beoordelaars gaan na die inskrywings luister en finaliste in elke kategorie kies. Die finaliste sal dan by ATKV-Buffelspoort gedurende die PLUS 50-kuierweek op 10 November tydens ’n galageleentheid optree.
Cor sê hulle was verlede jaar oorbluf deur die sowat 200 inskrywings wat hulle ontvang het.
“Ons het beleef hoe senior burgers die absolute vrymoedigheid gehad het om te sê: ons hét talent, ons kán nog sing.”
Hy sê ook die beoordelaars was baie beïndruk deur die hoë gehalte van eie komposisies wat ingeskryf is.
Die oudste deelnemer was 83 jaar oud.
Verlede jaar was Lientjie Sothmann (56) die algehele wenner met haar eie komposisie, “Sterrenagkombers”.
“Ek dink dit is goed dat daar plek is vir volwasse musikante. Ons bring ervaring, diepte en ’n ander soort energie. ’n Samelewing bestaan immers uit alle ouderdomme en musiek moet dit weerspieël,” het sy ná die tyd gesê.
Kontak gerus vir Cor vir meer besonderhede by andanteplus50@gmail.com of 082 7882 736.