Vlieënde vaandels vir ATKV-tak Kanniedood idiome-aand

Idiomatiese taalgebruik is so voedsaam soos moedersmelk vir die sprekers van ’n taal. Noem dit maar taalspeserye – daarsonder sou Afrikaans (of enige ander taal) maar saai geklink het. Die meeste jonges van dae weet egter so min van Afrikaanse gesegdes as ’n kat van saffraan, meen kenners. Hulle hamer op dieselfde aambeeld en hul taalgebruik is bra vervelig en besaai met vaal clichés. As idiome gebruik word, is dit dikwels uit konteks of heeltemal verkeerd aangehaal. Dit is glad nie ’n verrassing as ’n kind in ’n toets oor Afrikaanse idiome skryf, “hoe meer haas, hoe minder wortel” nie, of dink “vlerksleep” beteken om doodmoeg te wees nie.
Met dit in gedagte, het lede van die ATKV-tak Kanniedood besluit om Afrikaanse idiome weer lewe te gee op ’n prettige manier wat almal aan die dink kry. Elize du Preez, takvoorsitter, sê, “Ons het lanklaas gekonsentreer op ons Afrikaanse idiome en wou dit graag interessant en prettig aanbied om daarmee weer ’n bietjie ons onthou van idiome te toets.”
Hulle het kontak gemaak met die Afrikaanssprekende Brandpunt Fotoklub in Alberton om handjie by te sit en die aand in te kleur deur idiome met foto’s uit te beeld. Daar was ’n totaal van 50 foto’s gewees. Al die Kanniedood-taklede, plus vier genooide gaste het deelgeneem. Lede is in ’n A-span en ’n B-span ingedeel. Die spanne is om die beurt ’n kans gegee om te raai watter idioom uitgebeeld word. Indien die span nie reg geraai het nie, kon die ander span antwoord vir een punt. Span B het die A-span uiteindelik met slegs een punt geklop.
Dit was ’n baie ontspanne manier om Afrikaanse idiome weer in herinnering te roep. Om die aand af te sluit, het almal hul piekniekmandjies uitgepak en gesellig saam verkeer.
As jy graag meer te wete wil kom oor takke in jou area, of betrokke wil raak by ATKV-projekte, sit skouer aan die wiel en gaan loer op www.atkv.org.za.