Voormalige ATKV-direksielid sterf

Die ATKV neem met leedwese kennis van die afsterwe van Herman Bailey.
Dié boorling van Wellington sou op 22 September sy 71ste verjaardag gevier het.
Herman het vir 18 jaar op die ATKV se direksie gedien en ’n groot bydrae gelewer om die ATKV se visie – om Afrikaanse taal, kultuur, kennis en kreatiwiteit onmisbaar en aktief deel van nasiebou, versoening en ’n suksesvolle Suid-Afrika te maak – te verwesenlik.
Volgens Sonél Brits, besturende direkteur: ATKV-MSW, was Herman ’n gemeenskapsmens, ’n dierbare vriend en ’n brugbouer van formaat.
“Sy lojaliteit en toewyding teenoor sy gesin, sy gemeenskap en sy ATKV-familie sal my altyd bybly. Hy was ’n entoesiastiese ondersteuner van verskeie takprojekte, blomkweker en bewaarder van tradisies met ’n warm hart. Rus sag. Ons sal jou mis.”
Sy CV getuig van iemand wat met gemak leiersposisies beklee het en vir wie dit belangrik was om sy gemeenskap te dien.
Herman was onder meer die burgemeester van Wellington (1995-2000) en die uitvoerende burgemeester van die Drakenstein Munisipaliteit (2002-2006). Hy is ook in 1996 as die Wellingtonner van die Jaar aangewys.
Hy het op vele direksies gedien, onder meer die FW de Klerk-stigting, die SAUK en die Universiteit Stellenbosch. Hy was ook die voorsitter van Biblionef SA en Operation Hope SA.
Herman het nie net die ATKV op direksievlak gedien nie, maar was ook baie betrokke op takvlak.
Dr. Marlene le Roux, voorsitter van die ATKV-MSW-direksie, praat met groot lof van Herman.
"By die ATKV het hy sy stem laat hoor oor die belangrikheid van bruin Afrikaanssprekende persone. Hy was deel van die vernuwing van die ATKV. Nou jare later volg ek in sy spore en kan ek met dankbaarheid help bou aan die grondslag wat hy gelê het.
"Hy was ’n kultuurman en baie passievol oor die Klopse, die Afrikaanse taal en landelike ontwikkeling. Hy was een van daardie mense wat iemand se talente en gawes kon raaksien."
Hy word deur vele van sy kollegas beskryf as ’n ware gentleman en iemand met integriteit en kundigheid oor gemeenskapsake.
Herman se vrou, Carol, is in 2018 oorlede. Hulle het vier seuns gehad.