Skip to main content

Vandeesweek het die nare werklikheid van ’n land met ’n hoë misdaadsyfer gesorg vir ’n groot tragedie by die ATKV-Buffelspoort. Soos u waarskynlik reeds in die media gelees het, is ’n besoeker aan die oord, mnr. Johannes Brits (68), tydens ’n middernagtelike gewapende rooftog doodgeskiet. Die moordenaars het gevlug met drie selfone.  

Ons wil langs hierdie weg persoonlik en ook namens die ATKV innige meegevoel betuig met mnr. Brits se gesin en geliefdes. Dis moeilik vir ons as buitestanders om ons te probeer indink hoe skokkend die gebeure moes wees vir almal wat vir hom lief was, en veral vir sy vrou en sibbe, saam met wie hy met vakansie was. Woorde skiet ver te kort in tye soos hierdie, maar ons wil die familie graag verseker van ons simpatie en ondersteuning.

Dis vir die ATKV ook baie belangrik om u, ons gewaardeerde lede, weer eens te verseker dat u gerief, genot en veiligheid steeds ons hoogste prioriteit is wanneer u een van ons vakansieoorde besoek. Dit is die eerste keer in die ATKV se geskiedenis dat iemand by een van ons vakansieoorde vermoor word. Die bestuur van die ATKV-Buffelspoort werk ten nouste saam met die polisie wat leiding neem in die ondersoek. As voorkomende maatreël word die verskerping van veiligheidsmaatreëls by die res van die ATKV-oorde geëvalueer en sal nodige aanpassing gemaak word indien nodig. 

Daar is ’n gesegde wat lui dat krisisse nie karakter kweek nie, maar karakter openbaar. Baie dankie vir al die ondersteuning wat ons van oral ontvang. Of dit nou ’n aanbod was vir praktiese hulp, ’n boodskap op sosiale media, ’n telefoonoproep of e-pos, baie dankie vir u meelewing tydens hierdie moeilike week. Ons almal by die ATKV waardeer dit opreg.

Dankie ook aan ons Buffelspoort-personeel wat alles moontlik gedoen het om mnr. Brits se familie by te staan ná die nag se tragiese gebeure – topbestuur by hoofkantoor sien dit raak, en waardeer die ekstra myl wat julle gestap het vir ons gaste.  

Indien u enige verdere navrae het, moet asseblief nie huiwer om ons te kontak nie.

ATKV-groete

Sonél Brits en Schalk Cilliers
Besturende direkteure: ATKV-MSW en -Sake