Vrywilligerswerk ’n geleentheid, sê verskilmakers
“Waarin lê die kern van die lewe?” het die Griekse filosoof Aristoteles eenmaal gevra en sy eie vraag geantwoord met die woorde: “Om ander te dien en goed te doen.” Die bokser Muhammad Ali het weer op sy beurt gesê dat diens aan ander die huur is wat jy betaal vir jou kamer hier op aarde.
Vrywilligerswerk is natuurlik diens aan ander sonder dat ons enige vergoeding daarvoor sal kry – iets wat elkeen van ons iewers in die loop van ons lewe sal doen. Soms dalk net hier en daar, maar vir ander het vrywilligerswerk ’n leefwyse geword.
Op 5 Desember word Internasionale Vrywilligerdag gevier. Hierdie spesiale dag is ingestel deur die Verenigde Nasies en fokus op die wonderlike werk wat vrywilligers regoor die aardbol doen. Die VN beraam dat daar meer as 1 miljard vrywilligers wêreldwyd is wat net soveel werk verrig as 109 miljoen voltydse werkers.
Ook in Suid-Afrika leun gemarginaliseerde gemeenskappe en gemeenskappe in nood baie swaar op die hulp van vrywilligers. Kerke en organisasies soos die ATKV is gewoonlik die dryfveer agter die verskillende maniere van hulpverlening hier in ons land. Die ATKV is immers ’n voorlopermaatskappy wat dit regkry om op ’n volhoubare wyse sosiale en ekonomiese vooruitgang te kweek. Hierdie organisasie spog tans met 305 takke landswyd. Dis daardie taklede, ondersteun deur die bestuur van die tak, wat die hande en die voete van die ATKV is en wat danksy vrywilligerswerk ’n wesenlike verskil in hul onderskeie gemeenskappe maak.
Jaco Spies is die streeksbestuurder van die ATKV se takke in die Noord- en Oos-Kaap. Hy is veral opgewonde oor die nuutste ATKV-tak wat in sy gebied gestig is. Hierdie tak, die ATKV-tak Allies, is op Aliwal-Noord gestig met Elona Kotze as voorsitter. Al die lede van die tak is onderwysers by die plaaslike laerskool en hulle fokus gaan dus baie sterk op leer- en leesprogramme by die skool val.
“Dis baie lekker om te kan sien dat daar nog soveel mense is wat bereid is om te gee. Hulle tyd, hulleself. Ons kyk na die wonderlike werk wat die ATKV-takke regoor die land doen en dit maak ’n mens opgewonde. Dan is dit veral lekker om aan die einde van die jaar nabetragting te hou oor die suksesse, maar om ook seker te maak dat jou voorbereiding vir die volgende jaar mooi in orde is.
“Deur die jaar kry ’n mens terugvoer van verskillende vrywilligersprojekte in die onderskeie gemeenskappe. Dis wonderlik om te sien hoe mense hande vat en saamwerk, maar terselfdertyd versoen hulle op ’n manier. Ek dink vrywilligerswerk bied aan jou die geleentheid om genesing te vind deur terug te gee en betrokke te wees binne ’n struktuur. Dis baie vervullend om te sien hoe mense wil verbeter en wil verander. Deur betrokke te wees by ’n liefdadigheidsprojek, kry hulle die geleentheid daarvoor,” sê Jaco.
Soekie Nel is al vanaf 1997 die voorsitter van die ATKV-tak Aksie en Woordvreugde in Pretoria-Noord. Sy is ook die voorsitter van die SAVF Ruimte-dienssentrum in Pretoria en geniet hoe hierdie twee aksies saamwerk.
“Hierdie liefdestaak geniet ek verskriklik baie. Ek hou daarvan om met mense te werk en is dankbaar vir al die geleenthede wat ek só kry. Wanneer ’n mens besig is met vrywilligerswerk, vergeet jy van jou eie probleme. Ek glo dit is goed vir jou gesondheid. ’n Mens leer ook soveel van jouself en dit is die ideale geleentheid om te kan groei,” sê Soekie.
Iemand wat ook al ’n lang pad met die ATKV stap is Johan Fourie van die ATKV-tak Wyngilde in Gqeberha. Hy het 44 jaar gelede, op 1 Januarie 1980, by die ATKV aangesluit.
“Ek dink nie die wêreld kan bestaan sonder vrywilligers nie. ’n Mens mag nooit jou rug draai op die geleentheid om êrens ’n verskil te maak nie. Saam met die verskillende kerke in ons land maak die ATKV rêrigwaar ’n verskil.
“Eintlik bied vrywilligerswerk ’n geleentheid om die wêreld te verander, want selfs die kleinste aksie kan verandering bring. Ons is almal te besig om oor ons eie probleme te dink. Wanneer ons by ’n projek betrokke raak, sien ons hoeveel probleme daar werklik in die wêreld is, en skielik lyk ons eie probleme soveel kleiner,” sê Johan.
Die skenking van boeke vir ’n biblioteek, leeshoekies wat ingerig word, bejaardes wat ’n bietjie gepamperlang word, matrieks wat met ’n bederfpakkie aangemoedig word voor die eksamen, die opknapping van ’n perseel of terrein, kospakkies wat uitgedeel word … Die lys van die bydraes wat ATKV-vrywilligers maak, is lank. Die beste nuus is dat vrywilligerswerk ’n geleentheid is om pret te hê, al is dit ook harde werk. Sonder vrywilligers en hul onbaatsugtige liefdesdiens sal die aarde beslis ’n baie donkerder plek wees!