VVA: 400 kinders ontdek die wêreld van lees danksy boektrommels

Meer as 400 gelukkige kinders kan nou die wêreld van lees ontdek nadat die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n divisie van die ATKV, boektrommels aan skole en naskoolsentrums geskenk het.
“Die VVA se boektrommelprojek wil kinders so vroeg as moontlik aan die wêreld van woorde en stories blootstel,” sê Chareldine van der Merwe, projekbestuurder by die VVA.
Die skenkings is moontlik gemaak deur die Dagbreek Trust en AON.
Die skole wat boektrommels ontvang het, is: St. Vincent Primêr, Koelenhof en Nieuw Sion Nasorgsentrum in Simondium, Bronaar Nasorgsentrum in Ceres, Simondium Primêr, Goedgedacht Kleuterskool in Riebeek-Kasteel en Emmanuel Dagsorg & Naskoolsentrum en Die Heuwel Speelskool in Oudtshoorn.
“Die kinders en opvoeders is baie opgewonde en dankbaar oor die boeke,” sê Chareldine.
Saam met die skenkings het die VVA ook ’n voorleeswerkswinkel in Oudtshoorn aangebied wat deur 31 graad R-onderwysers bygewoon is.
“Die doel van die werkswinkel was om onderwysers te herinner dat lees ’n vaardigheid is en dat dit ontwikkel moet word. Voorlees en lees ontwikkel ’n kind se verbeelding, brei sy woordeskat uit en ontwikkel ’n kind se taalvermoëns.
“Boeke is nie ’n luukse is nie. Dit is ’n noodsaaklikheid vir ons kinders se toekoms en ongelukkig kan baie skole en mense nie altyd boeke bekostig nie.”
Die boektrommels is die VVA se vlagskipprojek.
“Die boektrommels vol heerlike boeke wat aan skole en kleuterskole geskenk word, help dat ons voorlees en die belangrikheid daarvan by elke huis en klas kan tuisbring.
“Met hierdie uitgebreide boektrommelprojek wil die VVA jaarliks probeer om ’n groter impak te maak tot die ontwikkeling van ’n leeskultuur in gemeenskappe landwyd sodat kinders in woordryke omgewings met toegang tot die regte boeke kan grootword.”
Het jy geweet jy kan ’n blywende verskil maak deur ’n skenking aan die Vriende van Afrikaans se boektrommelprojek. Lees HIER meer oor die ATKV se Woekerfonds. Jou bydrae – klein of groot – gaan die wêreld van woorde en stories aan kinders bekendstel.