VVA bring leesvreugde na die kinders van Hutchinson
Op die ou stasiedorp Hutchinson, sowat 14 kilometer buite Victoria-Wes, staan dinge vandag stiller as vroeër. Die stasie wat eens deel van die dorp se ritme was, is nie meer in gebruik nie. Daar is die ou “Boereblok”, die ou stasie en Marabastad, ’n klein Noord-Kaapse gemeenskap wat, soos soveel ander plattelandse plekke, net-net bly staan.
Maar op Woensdag 5 Augustus was daar ’n ander soort verrassing by die Hutchinson Primêre Skool met sy 83 leerlinge.
As deel van die voorprogram van die Karoo-toneelfees het die Vriende van Afrikaans (VVA) die skool besoek vir ’n boeketrommeloorhandiging en voorleesgeleentheid. Shireen Crotz, projekorganiseerder van die VVA, het die program gelei, met Brandon Erasmus, bestuurder van die Karoo-toneelfees, en Dokka Swart van die VVA se Doen en Leer-program ook teenwoordig.
Vir die skoolhoof, Mbulelo Bomela, beteken só ’n besoek veel meer as bloot nuwe boeke.
“Ek is bly dat julle dit vir ons kinders doen. Hulle kort elke bietjie hulp wat hulle kan kry,” het hy gesê.
En toe kom die groot verrassing.
“Ons het vandag vir julle ’n groot geskenk gebring. Wie hou van geskenke?” het Shireen die kinders gevra.
Voor hulle het ’n groot blou trommel gestaan.
“Hierdie groot blou trommel is vol boeke.”
Die boektrommel, wat deur die VVA geborg is, bevat 70 boeke ter waarde van ongeveer R9 500. Vir ’n klein skool soos die Hutchinson Primêre Skool beteken dit ’n waardevolle uitbreiding van die boeke waartoe kinders toegang het.
Die VVA se betrokkenheid by lees strek van die voorskool- en grondslagfase tot die intermediêre fase. Die fokus is nie net daarop om kinders tegnies te leer lees nie, maar om ’n liefde vir stories, taal en boeke aan te wakker.
Crotz het die jong leerders herinner dat die boeke vir baie kinders ná hulle ook daar sal wees.
“Julle is nou in graad twee, maar eendag gaan julle in graad sewe wees. Julle moet mooi na die boeke kyk, want die kinders ná julle moet hulle ook kan lees.”
Shireen het vir die kinders ’n storieboek gelees terwyl hulle met volle aandag geluister het, en juis daarin het die oggend se doel gelê: om hulle te laat ontdek watter wêreld ’n boek kan oopmaak.
’n Boek kan jou wegneem van die plek waar jy sit. Dit gee jou ’n verbeeldingswêreld waarin nie alles noodwendig waar hoef te wees nie, want soms mag ’n mens ’n storie sommer self op droom.
Ná die voorlesing het Dokka die kinders aan die beweeg gekry. Met eenvoudige bewegingsoefeninge het sy gewys hoe fisieke aktiwiteit kan help om suurstofvloei, fokus en konsentrasie te verbeter.
In Hutchinson, waar ’n ou stasie vandag stilstaan, het ’n groot blou trommel vir ’n groep kinders ’n ander soort reis moontlik gemaak. Een wat nie ’n trein nodig het nie – net ’n boek.