VVA deel passie vir lees by Woordfees
By die RSG/ATKV-vierkant by die 26ste Toyota Stellenbosch Woordfees het ’n inspirerende gesprek ontvou tussen Christelle Webb-Joubert van RSG en Chareldine van der Merwe, projekbestuurder by die Vriende van Afrikaans (VVA).
Die VVA, wat vandag as ’n afdeling van die ATKV werk, wy hul daaglikse werksaamhede toe aan leesbevordering, die opbou van ’n leeskultuur en die ondersteuning van opvoeders, ouers en leerders reg oor Suid-Afrika en Namibië.
Chareldine het vertel dat die VVA in Februarie 1994 op Stellenbosch beslag gekry het onder die leiding van wyle prof. Johan Combrink en Willem Dempsey. Die beweging het uit ’n diep bekommernis oor die toekoms en voortbestaan van Afrikaans ontstaan. In Oktober 2014 het die VVA amptelik deel geword van die ATKV.
“Hierdie samewerking het die VVA in staat gestel om hul eie identiteit en projekte te behou, terwyl hul bereik landswyd uitgebrei kon word. Vandag bestaan die vaste personeel uit slegs twee personeellede, maar deur die gebruik van vennote en kontrakteurs het hul werk al oor die grense heen tot in Namibië uitgesprei,” vertel Chareldine.
Die belangrikste manier waarop die publiek by die VVA betrokke kan raak, is deur as lid van die ATKV aan te sluit en ’n maandelikse bydrae te lewer. Hierdie lidmaatskapfooie maak dit moontlik om projekte gratis by skole en gemeenskappe aan te bied.
Daarbenewens werk die VVA nou saam met die Taalsentrum van die Universiteit Stellenbosch aan ’n voorleesprojek binne die Stellenbosch-munisipale omgewing. Die span maak vooraf afsprake met kleuterskole om vir kinders voor te lees en hulle van boekopvoeding te leer – soos hoe om ’n boek te hanteer en respek vir boeke te kweek – want ’n mens kan nie aanneem dat kinders weet nie.
Die noodsaaklikheid van projekte soos die VVA se boektrommel- en leesondersteuningsinisiatiewe word onderstreep deur skokkende nasionale leesstatistieke:
- Ongeveer 14% van Suid-Afrikaners is aktiewe lesers.
- Ongeveer 82% van Suid-Afrikaanse graad 4-leerders kan nie met begrip lees nie.
- Tussen 43% en 56% van Suid-Afrikaanse huishoudings besit nie ’n enkele leesboek nie en slegs 16% van huise het meer as vyf boeke.
- Slegs 30% van leerders kan met begrip in hul huistaal lees. Teen die einde van graad 3 kan 15% van leerders nasionaal nie ’n enkele woord lees nie.
- Sowat 50% van ouers het nog nooit vir hul kinders ’n storie voorgelees nie, en ’n derde van ouers het nog nooit vir hul kinders ’n storie vertel nie. Twee derdes van die kinders begin skool sonder hul eie kinderboeke.
Chareldine merk op dat die situasie op die grond dikwels nog erger is as wat die amptelike statistiek toon. In baie klasse met tot 63 kinders kan slegs sewe kinders lees, en skoolhoofde berig dat waar daar vroeër vyf kinders in ’n klas van 30 was wat nie kon lees nie, daar vandag dikwels net vyf is wat wél kan lees.
Om hierdie agterstande te takel, fokus die VVA op pragmatiese en doeltreffende projekte. Die VVA versprei boektrommels wat gevul is met omtrent 100 van die nuutste en mees geskikte boeke op die mark, ter waarde van sowat R10 000 per trommel.
Danksy spesifieke borge besoek die VVA jaarliks 21 laerskole en 13 kleuterskole in die Stellenbosch-omgewing. Landswyd is die mikpunt om minstens 60 boektrommels per jaar te versprei, hoewel hulle reeds verskeie jare tot 90 trommels per jaar kon uitreik.
Die VVA hou ook voorleeswerkswinkels en leeskonferensies vir onderwysers, sowel as ouersessies waar praktiese wenke gegee word oor hoe om met minimale middele ’n leeskultuur tuis te kweek. Dit sluit in die gebruik van ou tydskrifte, die luister na die radio, of die gebruik van graanvlokkiebokse om woorde te lees.
Die VVA se Doen en Leer-program is ontwikkel deur ’n remediërende onderwyseres met jare se ondervinding. Dit lei fasiliteerders en onderwysers op om kinders met leesuitdagings op ’n gestruktureerde manier individueel te help. Omdat klasse dikwels oorvol is, kan onderwysers nie altyd individuele aandag gee nie – die Doen en Leer-program vul hierdie gaping.
Chareldine het die gesprek met die volgende afgesluit: “As mense boeke wil skenk, vra die VVA dat mense nie net ensiklopedieë of ongewenste boeke gee nie, maar eerder geskikte, mooi prentboeke en storieboeke direk na hul plaaslike kleuter- of laerskole neem.”
Chareldine se grootste droom vir die VVA is om te volhard in hul groei sodat hulle opvoeders se hande kan versterk, ouers kan ondersteun en meer kinders die vreugde van boeke kan laat ervaar.