VVA kweek liefde vir lees in die Bottelary Bewarea

Danksy die Vriende van Afrikaans (VVA) het kinders in die Bottelary Bewarea buite Stellenbosch die wêreld van lees ontdek. Die VVA bied ’n omvattende program hier aan en die kleingoed kan nie hieroor uitgepraat raak nie.
Volgens Amanda de Stadler, bestuurder van die VVA, het hulle reeds ’n voorleeswerkswinkel gehou en ook ’n boektrommel vir ’n kleuterskool in Fransmanskraal geskenk.
"Ons het 106 heerlike fiksie en nie-fiksie boeke van LAPA Uitgewers by ’n plaasbiblioteek, wat hopelik sal groei tot ʼn gemeenskapsbiblioteek, gaan aflaai," sê Amanda.
"Ons het hulle probeer lus maak vir lees deur saam met hulle deur die boeke te gaan en hier en daar ’n stukkie voor te lees. Die kinders het behoorlik geskater met die lees van Jaco Jacobs se grapboeke."
Die kinders kon toe elkeen ’n boek uitneem. Juffrou Anna Oppel, die programkoördineerder van die Bewarea-projek, het haar hande vol gehad met die opgewonde lesertjies.
Vriende van Afrikaans is ’n divisie van die ATKV.