VVA saai hoop en leeslus in gemeenskappe
Toe ’n onderwyser by die Franken Primêr in Herold ’n kinderboek uit ’n splinternuwe boektrommel haal, het sy onwetend vir die skrywer van dié boek ’n besondere kompliment gegee: “Die kinders sal van hierdie boek hou, want die karakter lyk soos hulle en hulle kan hulself hierin sien.” Die boek was Huisies vir muisies en die skrywer Chareldine van der Merwe het sommer daar tussen die besoekers gestaan.
Dit was een van talle besondere oomblikke tydens die ATKV se Vriende van Afrikaans (VVA)-besoek aan die Tuinroete en die Oos-Kaap van 12 tot 16 Oktober. Met boektrommels, flitskaartjies, werkboeke, praktiese opleiding en motiveringsboodskappe het die span die pad na George, Pacaltsdorp, Herold, Gqeberha en Jeffreysbaai aangepak om leesbevordering en geletterdheid op grondvlak te ondersteun.
Die span het bestaan uit Chareldine van der Merwe, Dokka Swart van die VVA se Doen en Leer-program, Beverley McKelly van die ATKV-tak Sommer Net Ons, Shireen Crotz van die VVA, André Hendricks, projekorganiseerder van ATKV-Kopskuif, en Wilna van Rooyen van die Afrikaanse Onderwys Netwerk (AON).
Die week het op Maandag 12 Oktober by die Parkdene Hoërskool in George afgeskop, waar André sowat 200 graad 11-leerders met sy Kopskuif-sessie “The Last Mile – End Well” aangespoor het om hul laaste skooljaar met oorgawe aan te pak.
Dieselfde oggend het Dokka Swart ses vroue van die uitgebreide openbarewerkeprogram (EPWP) en die ATKV-tak Sommer Net Ons as ses fasiliteerders in die Doen en Leer-program opgelei. Hulle het prakties met sewe leerders gewerk wat goeie vordering getoon het.
Die program kombineer visuele en ouditiewe leer met beweging, klankherhaling en assosiasie. Kinders moet sien, hoor én doen. Hulle leer eers om woorde te herken en korrek uit te spreek voordat hulle die verband tussen klanke, letters en woorde begin verstaan. Volgens Dokka is dié intervensie dikwels die laaste uitweg vir kinders wat reeds lank met lees sukkel. Daarom is die heel eerste les vir haar van kardinale belang. Dit gaan nie bloot oor die aanleer van klanke nie, maar oor die oomblik wanneer ’n kind skielik besef: Ek kan dit doen!
Op Dinsdag 13 Oktober het die VVA by die Franken Primêr in die klein gemeenskap van Herold, sowat 30 minute buite George, besoek afgelê. Hier is ’n boektrommel ter waarde van nagenoeg R9 500 oorhandig. Chareldine het vir die kinders voorgelees, terwyl Dokka met ’n seuntjie genaamd Mongi gedemonstreer het hoe ’n kind met die regte ondersteuning gehelp kan word om te lees.
Dit was ook hier waar Huisies vir muisies onverwags die kollig gesteel het.
“Dit was vir my ’n bevestiging,” vertel Chareldine oor die onderwyser se opmerking. Vir haar is dit belangrik dat kinders hulself in stories kan herken en kan sien wat moontlik is, ongeag hul omstandighede. “Ek wil die saadjie plant dat kinders graag meer sal wil lees,” sê sy. Haar hoop is dat kinders eendag hul eie boeke sal skryf en sal besef dat hul drome, met harde werk, binne bereik kan wees.
Die dag se program het ook ’n onderhoud met Chareldine vir Hartland Tuinroete en ’n beplanningsgesprek met Theo Adams en Estelle Brits oor die Dalene Matthee-fees van 2027 ingesluit. Later die middag het die George-biblioteek die gasheer gespeel vir ’n boekgesprek oor die kinderboek, Barrett se ruimtereis, tussen die skrywer Chareldine en Garelene Maree-Muller, bibliotekaresse van die George-biblioteek. Beverley McKelly van die ATKV-tak Sommer Net Ons het die gesprek gelei.
“Afrikaanse kinderboeke is so skaars soos hoendertande,” het Garelene gesê. Volgens haar ontvang biblioteke heelwat vertaalde Engelse kinderboeke, maar is dit belangrik dat kinders ook met plaaslike karakters en hul leefwêrelde kan identifiseer. Daarom is sy besonder bly dat Barrett se ruimtereis nou deel van die biblioteek se versameling is.
Woensdag het die span na Gqeberha gereis, waar Doen en Leer-opleiding op Donderdag 15 Oktober by die Triomf Primêre Skool, ’n skool met 1 114 leerders, aangebied is.
Die skoolhoof, dr. Charlotte Hendricks, wat die afgelope vier jaar aan die stuur van die skool staan, het reeds by haar vorige skool eerstehands die waarde van Doen en Leer ervaar. “Ek is baie passievol oor die opvoeding van ons kinders,” het sy gesê.
Die week is op Vrydag 16 Oktober met ’n leeskonferensie by die Seashells-vakansiewoonstelle in Jeffreysbaai afgesluit. Sowat 18 onderwysers het die konferensie met die tema “Hoekom moet kinders lees?” bygewoon, met Shireen Crotz as programleier.
Die spraakterapeut en skrywer Christien Neser het oor die inklusiewe klaskamer gesels, terwyl Chareldine die belangrikheid van boeke en voorlees beklemtoon het. Wilan van Rooyen, ’n vroeëkinderontwikkelingspesialis van die AON, het verduidelik hoe babas en jong kinders reeds vroeg vir lees voorberei kan word.
André Hendricks het die week se Kopskuif-boodskap afgesluit met ’n gesprek oor onderwysers se eie welstand. Namate die uitdagings in die onderwys toeneem, word dit al hoe belangriker dat opvoeders ook na hulself omsien. Want hoe gee jy elke dag hoop, geduld en ondersteuning aan ander as jou eie tenk leeg is?
Ná vyf dae op die pad was daar baie om oor huis toe te skryf: nuwe fasiliteerders, kinders wat weer kans sien om te probeer, ’n skool wat nuwe leesgeleenthede kry en onderwysers wat met vars idees terugkeer klas toe.