Wanneer tieners superhelde word

Staan opsy Superman, Wonder Woman en kie, “om ’n akteur of aktrise te wees, is soos om ’n super power te hê”.
Hierdie woorde van Merwe van Gent (18) van die Hoërskool Wesvalia in Klerksdorp en die derdeplekwenner, som die ATKV-Tienertoneelkompetisie 2020 in ’n neutedop op.
223 dapper tieners het in een van die uitdagendste jare in wêreldgeskiedenis pen en papier opgeneem, voor die kamer ingeskuif, ’n monoloog opgevoer en met durf, moed en talent die beoordelaars se emosies in die palm van hul hand gehou.
Henrietta Gryffenberg, een van vanjaar se mentors en beoordelaars, glo Covid-19 het gedreig om Tienertoneel ’n nekslag toe te dien.
“Maar die gemak waarmee die deelnemers die nuwe medium (om kort monoloë te skryf en dan te verfilm) omarm het, het nie net uitstekende toneelwerk opgelewer nie, dit het ook bewys hoe vindingryk jong mense met verandering kan omgaan.”
Dis lewensveranderend!
Vir Nichola Viviers (18), ’n matriekleerder aan die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch en wenner van vanjaar se kompetisie, was die proses moeilik, maar het sy nog nooit so baie oor haarself geleer nie.
“Ek was regtig opgewonde toe ek hoor Tienertoneel gaan vanjaar na ’n digitale platform oorskakel. Ek het voor my rekenaar ingeskuif en skielik was daar niks. Skrywersblok. Dit wat ek wel geskryf het, het vir my sleg en gemiddeld gevoel.
“In hierdie stadium was ek ook besig om aansoek te doen vir universiteit, drama spesifiek.” ’n Innerlike stryd het gewoed. “Ek wil drama gaan studeer, maar ek kan nie ’n eenvoudige monoloog skryf nie. Uiteindelik het ek ’n teks, Bonuspunt, geskryf.”
Jeanne-Marie Koekemoer (16) van die Hoërskool Stellenbosch se selfgeskrewe Val is as die naaswenner aangewys.
“Ek dink een van die mees feestelike dinge wat hieruit gekom het, was om te weet iemand sien jou werk (op hierdie ouderdom en binne hierdie klein konteks waarin jy ’n baie klein bydrae maak) en kon iets daaroor dink en iets daaroor voel.”
Die sewe mentors, Amalia Uys, Jacques Bessenger, Waldemar Schultz, Ira Blanckenberg, Wilhelm van der Walt, dr. André Gerber en Henrietta Gryffenberg, het deur die inskrywings gesif.
Al 223 deelnemers wat ingeskryf het, het benewens hul toekennings vir prysenswaardige prestasie in die eerste ronde, persoonlike stemnotas van twee mentors op die paneel ontvang wat hulle kon gebruik om aan hul werk te skaaf of as inspirasie te dien om aan te hou skryf en speel.



Die Top 20 is in September aangewys en het die geleentheid gehad om aan hul werk te skaaf na gelang van terugvoering deur die ATKV-Tienertoneelmentors. Hierdie aangepaste inskrywings is deur die paneel tydens die semi-finale ronde beoordeel en die SUPER 12 het met hul laaste aangepaste weergawe geskitter tydens die finaal. Dié finaal is op die ATKV se sosialemediaplatforms uitgesaai.
Vir Merwe, wat ook as die kykerskeusewenner aangewys is, was vanjaar ’n grootse ervaring.
“Ek is so dankbaar en dis ’n ongelooflike voorreg. Ek het nou die dag vir my ouers gesê as ek vir myself in graad 8 gesê het, ‘hoor hier, jy gaan derde in Suid-Afrika wees met Tienertoneel’, sou ek dit eenvoudig nie kon glo nie.
“Ek het in gr. 8 en gr. 9 ongelooflik opgekyk na die kinders wat aan Tienertoneel deelgeneem het. Hulle was vir my soos celebrities. Ek is ook nou een van hulle.”
Praat ’n mens met hierdie drie, staan een ding soos ’n paal bo water uit. ATKV-Tienertoneel het vir ewig die trajek van hul lewe verander.
“Tienertoneel bied goeie validation om voort te gaan met drama en kuns. Dis nie ’n maklike bedryf nie en so baie mense trek jou besluit om ’n loopbaan van drama te maak in twyfel. Tienertoneel gee vir jou die geleentheid. Dit gee vir jou power”, vertel Nichola.
Jeanne-Marie glo die erkenning wat Tienertoneel gee, word “soos ’n baken op jou pad wat vir jou fluister om koers en kop bo water te hou”. “Dit moedig jou aan om alles om jou te vier en te weet jy is oukei en jy doen oukei ... Jy is meer as net oukei.”
Merwe se liefde vir toneel en Tienertoneel het sommer vroeg-vroeg begin. “My ma het my altyd Aardklop toe gevat en dan het ons die Tienertoneel gaan kyk. Ons het Tienertoneel gekyk dat dit wit sit.
“Tienertoneel was ’n groot deel van my hoërskoolloopbaan. Ek het geleer oor verhoogbestuur, hoe om kritiek te hanteer. Dit was die venster waardeur ek kon kyk hoe dinge werk. Ek is baie dankbaar.”
Tyd vir nuutskeppings
Benewens die splinternuwe platform vir vanjaar se kompetisie, spog Tienertoneel ook vanjaar met ’n digitale monoloogbundel.
Volgens JJ van Niekerk, projekorganiseerder van ATKV-Tienertoneel, was daar in 2020 geen kortpaaie om reeds bestaande werk af te stof en lewe daarin te blaas nie.
Die ATKV wou die grense met sy toneelkompetisie verskuif deur nuut te skep in ’n tyd van inperking.
“Ons wou sien wat dink en voel tieners en daarom moes deelnemers slegs nuutgeskrewe monoloë uit ’n voorgeskrewe temawolk skep en voordra.
48 tekste het ’n gemiddeld van meer as 80% behaal en vandaar het hierdie digitale bundel die lig gesien. Die bundel is gratis beskikbaar en kan hier afgelaai word.
Nichola en Jeanne-Marie het albei self hul tekste geskryf. Ilne Fourie en Merwe het saam koppe bymekaar gesit om sy teks Ingeperk lewe te gee.
Nodeloos om te sê, glo die drie “superhelde” dat toneel ’n moet is vir elkeen.
“Toneel is van onskatbare waarde. Dit doen jou goed op alle vlakke van die lewe. En een groot bonuspunt is die mense wat jy ontmoet. Die mense vir wie ek die liefste is, het ek op hierdie pad ontmoet,” eindig Jeanne-Marie haar stemnota aan my af.
“Dit het my lewe handomkeer verander. Ek het myself gevind,” voeg Nichola by.
Volgens Merwe is drama nie iets wat jy halfhartig moet aanpak nie. Ek herhaal Ilne se raad aan my: “Jy moet drama om te lewe en lewe om te drama. As jy weet waar jou hart lê, is dit baie maklik. Gee jou alles!
“Die eerste keer wat ek in die kollig ingekyk het, het ek geweet ek hoort op die verhoog. Ek is gebore hiervoor!”
*ATKV-Tienertoneel gaan volgende jaar in sy formaat van ouds voort. ATKV-DigiToneel is ’n splinternuwe projek waar tieners hul nuutgeskrewe monoloë op kamera kan voordra. Meer inligting is op www.atkv.org.za beskikbaar.
DEUR: REZA CLIFFORD
TAALGENOOT SOMER 2021
Taalgenoot is vir jonk en oud; vir mense wat in Afrikaans leef, liefhet en werk. Besoek http://bit.ly/Taalgenoot2021 of https://atkv.org.za/taalgenoot en lees die volledige tydskrif nou aanlyn of laai die PDF-weergawe af.