#Weesdieverskil-fees staan gestremdes by

Die jaar se aandskof het aangebreek en die meeste mense se koppe staan Desembervakansie se kant toe, wanneer ’n mens kan uitspan op die strand, braai saam met familie en vriende en vergeet van die jaar en sy uitdagings. ATKV-takke het egter nog nie gaan lê nie en woeker voort voor die einde van die jaar aanbreek.
Die ATKV-tak Gemeenskapsteater in Bloemfontein beplan om 2022 in styl te groet met hul #Weesdieverskil-fees en wil terselfdertyd ook ’n verdienstelike organisasie in die stad deur die fees bystaan. Die #Weesdieverskil-fees vind op 3 Desember by die Oorlogsmuseumterrein in Bloemfontein plaas.
Volgens Ebeth Wilson, takvoorsitter, is die tak aanvanklik gestig om as platform vir ’n amateurteatergeselskap te dien, maar met die onlangse pandemie het hulle besluit om deur middel van die kunste ook ’n wesenlike verskil in die gemeenskap te maak.
“Vir sowat drie jaar kon die ATKV-tak Gemeenskapsteater nie produksies aanbied nie – en dít is immers die tak se doel. Ons moes ander maniere kry om die tak steeds relevant te hou,” sê sy.
In 2021 het die tak die Sig vir Kersfees-projek geloods, waarmee hulle saam met Dankie, Lottoland pasiënte gehelp het om katarakoperasies te ondergaan.
“Dit het ons die geleentheid gegee om op ’n ander manier ’n verskil te maak en steeds as ’n tak aktief te wees,” sê Ebeth.
Al gaan die tak ’n heerlike makietie vir die inwoners van Bloemfontein aanbied, word die #Weesdieverskil-fees gehou ten bate van Huis Jean Webber, ’n residensiële bemagtigingsfasiliteit wat omsien na sowat 38 mense met gestremdhede.
“Ons het aan die begin van die jaar besluit ons wil ’n organisasie bystaan en vir hulle ’n lekker Kersfeespartytjie hou en geskenke gee, maar toe ontwikkel dit in ’n volwaardige fees,” vertel Ebeth.
Sommige inwoners van Huis Jean Webber, wat fisies in staat is om dit te doen, sal ook die fees bywoon.
“Feesgangers kan uitsien na heerlike kosstalletjies, ’n Kersmark en springkastele en gesigverf vir die kinders. Die Kersspel, Wie is Jesus?, gaan aangebied word en daar sal ook ’n poppekas wees.”
Kaartjies kos slegs R10.
“Al kom koop jy net iets om te eet by die kosstalletjies of ’n geskenk by die Kersmark – daardie R10 word aangewend om mense by te staan wat dit regtig nodig het.”
Besoek atkv.org.za/ons-storie/gemeenskap/ om jou naaste ATKV-tak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.