Wêreldgeletterdheidsdag ontsluit potensiaal
Geletterdheid is veel meer as net die vermoë om letters op ’n bladsy te ontsyfer – dit is die sleutel tot verbeelding, bemagtiging en die ontsluiting van ’n kind se volle potensiaal. Ter viering van Wêreldgeletterdheidsdag op 8 September, wat vanjaar fokus op die tema, “Geletterdheid vir mense, die planeet en voorspoed”, het die gewilde olifantjie, Tippie, en die ATKV kragte saamgespan om jong skrywers se kreatiewe vuurtjies aan te steek.
Wêreldgeletterdheidsdag is in 1966 deur UNESCO geproklameer en word sedert 1967 jaarliks gevier om die fokus op lees en skryf as ’n fundamentele mensereg te plaas. Met die oog op die amptelike 60ste herdenking aanstaande jaar, is die hernuwing van ’n leeskultuur onder die jeug belangriker as ooit.
Alhoewel wêreldwye geletterdheidskoerse die afgelope dekades aansienlik verbeter het, ontbreek miljoene kinders en jongmense steeds aan basiese lees- en skryfvaardighede. Die Tippie-Wêreldgeletterdheidsdag-storiekompetisie bied ’n opwindende platform om hierdie uitdaging kreatief aan te pak.
Dié kompetisie, wat vanaf 1 September tot 30 September 2026 strek, nooi kinders tussen die ouderdomme van sewe en elf uit om hul eie oorspronklike stories te skryf. Of ’n kind nou droom in Afrikaans, Engels, isiXhosa of isiZulu – enige van hierdie vier tale word verwelkom sodat elke deelnemer hul stories in hul eie hartstaal kan vertel.
Die kompetisie is gerieflik ingedeel volgens ouderdomsgroepe en die storielengtes wissel van 200-500 woorde vir sewe- en agtjariges; 300-600 woorde vir negejariges; 400-700 vir tienjariges en 500-1 000 woorde vir elfjariges. Die inskrywings kan met die hand geskryf of getik word – solank dit die kind se eie oorspronklike werk is (geen KI-gegenereerde werk of kopieë word toegelaat nie).
Elke kind mag slegs een inskrywing indien.
Die bekende en bekroonde kinderboekskrywer, Fanie Viljoen, neem die leiding as hoofbeoordeelaar. Hy sal die inskrywings weeg op grond van kreatiwiteit, verbeelding, oorspronklikheid en die vermoë om die leser op ’n meesleurende avontuur te neem.
Reinette Lombard, wat saam met haar ma, José Palmer, die Tippie-reeks skryf en wie se breinkind dit was om saam met die ATKV die storieprojek aan te pak, vertel: “Tippie, die hoofkarakter en held van die reeks, is ’n klein, grys olifantjie wat saam met sy maats allerhande alledaagse en moderne avonture beleef.
“Tippie is baie nuuskierig, hou van leer en help jong kinders om selfvertroue op te bou terwyl hulle leer lees.”
Die Tippie-leesreeks is ’n voorskoolse en grondslagfase leesbron vir ouers en onderwysers. Dit fokus op boustene soos woordeskat, leesbegrip en fonologiese kennis. Die stories en avonture is trots Suid-Afrikaans van aard. Alhoewel hy in Afrikaans begin het, is Tippie vandag ’n veeltalige olifant. Sy boeke en kurrikulums is beskikbaar in Afrikaans, Engels, isiXhosa en isiZulu.
Tippie doen ook Wiskunde, maar dis ’n storie vir ’n ander dag.
Die gedagte vir hierdie spesifieke storieprojek het op ’n heel besondere manier ontstaan.
“Ek wou baie graag ’n unieke, maar ook impakvolle idee vir Wêreldgeletterdheidsdag hê,” verduidelik Reinette. “Dit het baie dinkwerk gevat en ek het gesukkel om iets te kry waaroor ek opgewonde kon raak, maar wat ook ’n groter voetspoor kon los. Hierdie idee het in die middel van die nag skielik na my toe gekom.”
Oor die rede waarom kinders tussen sewe en elf jaar steeds so sterk met die karakter identifiseer wanneer hulle hul eie verhale begin skryf, noem Reinette: “Tippie is sommer net Tippie. Tippie en sy maats is dierekarakters met menslike eienskappe en ’n goeie waardesisteem. Tippie kan wees wat elke kind nodig het vir hom om te wees – dis waarin sy towerkrag lê. Die maskot wat skole en biblioteke besoek, oorbrug ook die grense tussen stories en werklikheid.”
Die samewerking tussen Tippie en die ATKV vloei uit ’n gedeelde droom dat alle kinders teen die einde van graad drie met begrip sal kan lees.
“Kinders wat kan lees is kinders wat kan leer en wat sal floreer,” beklemtoon Reinette. “Beide partye weet dat ’n gestruktureerde en progressiewe benadering met ’n baie sterk fokus op klankvaslegging ’n stewige grondslag gee. Die ATKV-EkKanLees-projek en Tippie maak dit maklik vir kinders om speel-speel te leer lees, en dit is nét so eenvoudig vir leesfasiliteerders om kinders met die leesmateriaal te ondersteun.”
Wat die keuse van tale betref, verduidelik sy dat Tippie reeds geliefd is in Afrikaans, Engels, isiXhosa en isiZulu.
“Die medeskrywers van die onderskeie tale se hulp gaan ingeroep word waar ons eie taalkennis dalk te kort skiet. Ons hoop om jaarliks hierdie storieprojek te doen en moontlik nog tale by te voeg!”
Vir jong skrywers wat miskien skroomvallig voel om die pen op te tel, het Reinette ’n duidelike boodskap van bemoediging: “Daar is nie ’n reg of verkeerd nie. Jou storie hoef nie ‘soet’ of ‘goed’ te wees nie. Gebruik jou verbeelding en vat vir Tippie op ’n nuwe avontuur. Skryf, herskryf, oorskryf en weer skryf is deel van die proses. Tippie sou sê: ‘Aanhouer wen. Probeer is die beste geweer.’”
Drome word werklikheid op papier
Vir enige voornemende skrywer is daar min dinge so opwindend soos om jou eie woorde in ’n regte boek te sien. Die eerste prys vir hierdie kompetisie bied presies dit: die wenstorie sal professioneel ontwerp, geïllustreer en gedruk word in die unieke, kenmerkende styl van ’n Tippie-boek as ’n spesiale gedenkuitgawe. Die wenner ontvang ook ’n Tippie-koopbewys ter waarde van R1 000 om hul eie boekrak uit te brei.
Verder sal die wenstorie deur die ATKV gebruik word om ’n spesiale ATKV-EkKanLees-aktiwiteitsboekie te skep. Hierdie boekie, gelaai met die storie en prettige geletterdheidsaktiwiteite, sal gedurende die Desember 2026-skoolvakansie gratis by ATKV-oorde versprei word. Die naaswenner stap weg met ’n opwindende ATKV-geskenkpak.
Die wenners sal op Vrydag 9 Oktober 2026 op die Facebook-bladsye van Tippie, Klaskameraad en die ATKV bekendgemaak word.
Klik gerus hier vir meer inligting oor hoe om in te skryf.