Wêreldpremière van ‘Riel’ by Durbanse filmfees

Nostalgia Productions, MOZE, Arno Marx en TMPC is trots om aan te kondig dat die wêreldpremière van Riel, ’n kortfilm deur Zenobia Kloppers, tydens die Durban Internasionale Filmfees sal plaasvind. Dié kortfliek span musiek, dans en stof in om die Nama- en Khoi-kulture op die grootskerm te vier. Dit is ’n ontdekkingsreis wat die kennisuitruiling tussen drie generasies vroue deur middel van die rieldans uitbeeld.
Met Riel maak Kloppers – ’n aktrise wat bekend is vir haar SAFTA-genomineerde vertolking van Fiela in die 2019-filmverwerking van Dalene Matthee se ikoniese roman, Fiela se kind – haar debuut as regisseur. Sy het Brett Michael Innes, die skrywer en regisseur van Fiela se kind, juis ontmoet toe sy die titelkarakter gespeel het en dié twee het ’n sterk band gevorm wat oor die jare net gegroei het.
Kloppers het op 47 ’n behoefte ontwikkel om agter die kamera in te skuif en het besluit om te begin skryf en regisseer – iets wat Innes, tesame met die vervaardigers Paulo Areal (Ellen: Die storie van Ellen Pakkies, Daryn’s Gym) and Arno Marx, heelhartig ondersteun het.
“Dit was so ’n vreugde om saam met Zenobia te skep,” sê Innes. “Wanneer ons ‘nuwe stemme in film’ sien, is dit gewoonlik mense in hul vroeë twintigs, so dit is kosbaar dat ’n 47-jarige vrou daardie persoon is.”
Die riel word beskou as Suidelike Afrika se oudste uitdrukking van erfenis en is ’n feestelike dans wat eerste deur die Khoi en San beoefen is. Die dans, wat onderskei word deur sy kenmerkende voetwerk en wat deur ’n groep dansers in die sand uitgevoer word, kombineer die hofmaakbewegings van diere met Skotse lyndans. Die doel is om met energieke voetbewegings stof op te skop.
“Die film is ’n viering van klank, sang, dans en stof,” sê Kloppers. “Dit gaan oor generasies vroue wat deur oerkennis met mekaar in verbinding tree en dit is ’n liefdesbrief aan my mense en my grond. Dit was angswekkend om agter die kamera in te skuif, maar ek het die ondersteuning van die span en gemeenskap agter my gevoel en dít het my die wêreld se selfvertroue gegee.”
Ter plaatse opgeneem in Montagu, is die GB Batt Stofskoppers (onder leiding van die ma-en-seun-tweemanskap, Emily and Duwayne Lombard) ook in die film te siene. Dié groep was die ATKV-Rieldanskampioene in 2019 en bring ’n egtheid na die dans wat in elke raampie tasbaar is.
Riel is gefinansier deur die Nasionale Rolprent-en-video-stigting, die ATKV, die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, Arno Marx and Paulo Areal. Randy Januarie, Annie Hendriks, Karin Arends en Jacques Bessenger verskyn in die film en oorspronklike musiek deur Frazer Barry, Gertruida “Koekie” Lombaard en Zenobia Kloppers kan gehoor word.
Riel se wêreldpremière vind op 30 Julie by die Suncoast Cinecentre plaas as deel van die Durban Internasionale Filmfees.
Vir meer inligting oor Riel, besoek www.nostalgiaproductions.co.za.