Willie Esterhuizen met ATKV-oorkonde vereer
Met sy aweregse humor het Willie Esterhuizen ’n hele generasie se lagspiere gekielie. En nou, meer as 30 jaar later, kry hy dit stééds reg om op sy unieke manier én in Afrikaans die land aan die lag te kry én te verenig.
Noem hulle maar op: Vetkoek Paleis, Orkney Snork Nie!, Lipstiek Dipstiek, Molly en Wors... As skrywer en akteur het dié pionier van Afrikaanse komedie ’n onvergeetlike indruk gelaat.
Daarom het die ATKV besluit om vir Willie met ’n ATKV-oorkonde te vereer vir sy merkwaardige bydrae tot Afrikaans en die kunste.
“Hy het met sy ikoniese reekse die alledaagse Suid-Afrikaner se stories in tydlose humor omskep wat steeds vandag leef,” sê Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV.
Hierdie toekenning is op Vadersdag aan Willie by ’n swierige geleentheid oorhandig.
“Hy is die vader van ’n hele genre – die vader van die moderne Suid-Afrikaanse TV-sitkom. Willie Esterhuizen se nalatenskap strek egter veel verder as net humor. Hy het ’n bedryf help bou, ’n platform geskep vir nuwe talent en gehalteproduksies gelewer oor dekades heen – van die SAUK tot kykNET en verder.”
Sy groot deurbraak het gekom met die televisiereeks, Orkney Snork Nie!, wat die eerste keer in 1989 uitgesaai is. Die reeks was ’n enorme sukses en het Willie as een van Suid-Afrika se bekendste komedieskrywers en -vervaardigers gevestig.
Later het hy dié sukses voortgesit met reekse soos Vetkoek Paleis (1996-2000), Molly en Wors en Gautêng-alêng-alêng.
As akteur het Willie in Afrikaanse films soos Die Vyfde Seisoen, Grensbasis 13 en Wat Jy Saai verskyn. Hy sou rolle in nóg 16 Afrikaanse films oor die komende drie dekades vertolk, insluitend die Orkney Snork Nie-films (1992 en 1993), Stoute Boudjies (2010), Faan se Trein (2014) en ’n Pawpaw vir my Darling (2016). Hy regisseer ook sewe Afrikaanse films, onder andere Lipstiek Dipstiek (1994) en Poena is Koning (2007).
“As erkenning vir sy onuitwisbare bydrae tot die Afrikaanse kultuur en televisie, is dit vir ons ’n uitsonderlike voorreg om hom met ’n ATKV-oorkonde te vereer. Hierdie toekenning simboliseer die noemenswaardige verskil wat hy maak, en is ’n teken van waardering vir ’n nalatenskap wat nie net die verlede verryk het nie, maar die toekoms van Afrikaanse vermaak en humor bly vorm,” sê Sonél.
Willie het op sy beurt die ATKV vir die erkenning bedank en gesê: “Dankie dat julle my werk raaksien en dink dat dit iets werd is.”
Hy benadruk dat sy familie, en veral sy broer, ’n kardinale rol in sy sukses gespeel het.
“’n Mens doen dit nooit alleen nie. Ek sou nie sonder my broer, Pieter, wat ook my vennoot is, kon doen wat ek vir die laaste 30 jaar gedoen het nie. Boonop het ons nog nooit baklei nie,” skerts hy.
Hy het ook sy “TV-vrou”, Lizz Meiring, bedank en haar as een van sy grootste ondersteuners beskryf.
“Dit was nog altyd vir my ’n groot eer om mense vir ’n halfuur te kon laat lag en van hulle probleme te laat vergeet, veral in die taal waarin ons droom – Afrikaans.”